Onderhandelings, gesprekke en die soeke na beleggers om die inmaakfabriek op Ashton oor te neem, het die afgelope week voortgeduur.

Intussen loop die uurglas leeg en dit lyk nog nie asof ’n belegger met die “tussen R200 en R300 miljoen” wat nog benodig word om die fabriek te red, in sig is nie.

Duisende mense kan hul werk verloor en die dorp staar ’n ekonomiese ramp in die gesig indien dié fabriek oor minder as twee maande sluit, soos Tiger Brands aangekondig het hy van plan is om te doen.

Hoëvlakgesprekke tussen die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, die provinsiale minister van landbou, Ivan Meyer, die provinsiale minister van finansies en ekonomiese geleenthede, Mireille Wenger en verteen­woordigers van Wesgro en Tiger Brands het plaasgevind sodat die Wes-Kaapse regering oor die toekoms van die maatskappy se Langeberg- & Ashton Food-inmaakfabriek op hoogte gehou kon word.

Die fabriek is een van die grootstes in Afrika.

“Dit was my tweede ontmoeting met Tiger Brands. Wesgro was voortdurend met hulle in kontak met die doel om ’n blywende oplossing te vind,” sê Winde. Hy verwelkom die nuus dat belangstellendes met die maatskappy skakel.

Tiger Brands het ’n beroep op ander belangstellendes gedoen om na vore te kom.

Die maatskappy sê hy vereis van potensiële kopers om te bewys hulle het voldoende kapitaal om die inmaakfabriek as ’n lopende saak oor te neem.

Mary-Jane Morifi, Tiger Brands se hoof van korporatiewe sake en volhoubaarheid, sê hulle skakel gedurig met partye wat belangstel om die fabriek te koop.

Tiger Brands sê dit is in almal se belang dat die fabriek op ’n verantwoordelike wyse van die hand gesit word. So kan hy verseker dat bedrywighede sal voortgaan en dus die werk van permanente en seisoenale werkers verseker.

’n Groep van ongeveer 160 boere het die afgelope twee jaar probeer om finansiering te bekom om die fabriek by Tiger Brands te koop, maar dit was tot dusver onsuksesvol.

Hulle kon nog nie genoeg geld vir ’n transaksie insamel nie.

Tiger was bereid om geld te bewillig om ’n oorname te laat gebeur, maar kort nog ’n groot belegger om die uitstaande R200 tot R300 miljoen, wat nodig is om die transaksie te finaliseer, te dek.

Meyer het intussen ook aan die nasionale minister van landbou, Thoko Didiza, geskryf en haar ondersteuning gevra.

Die regering het ’n meesterplan vir landbou-voedselverwerking, wat deel is van sewe “prioriteitsplanne” wat deur president Cyril Ramaphosa geïdentifiseer is as ’n ekonomiese sleutelsektor. Hierdie sektore is noodsaaklik vir die land se ekonomiese heropbou en herstel ná die Covid-19-pandemie.

“Ons sal gereeld die jongste kommunikeer oor die proses om beleggers te soek om werk in die Ashton-omgewing te red,” sê Meyer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article