Eskom het vanmiddag aangekondig dat hy vanmiddag
‘n ooreenkoms bereik het oor die 2022-loongesprekke met die drie vakbonde.
Dit bring die samesprekings van die Sentrale
Bedingingsforum (CBF) en die skadelike, ontwrigtende en duur loongeskil tot ‘n
einde, wat die weg baan vir ‘n volle terugkeer na werk van alle werknemers.
Daar is ooreengekom op ‘n salarisverhoging van
7% vir alle werknemers en sal toegepas word vanaf 1 Julie 2022 tot 30 Junie
2023. Vir hierdie tydperk sal die behuisingstoelae ook met R400 per maand
verhoog word. Met ingang van Julie 2022 het Eskom ingestem om die
diensvoorwaardes wat gegeld het tydens die ooreenkoms wat tot 30 Junie 2021 van
krag was, weer in te stel.
Die algehele effek van hierdie ooreenkoms op die
loonrekening sal meer as R1 miljard oor die tydperk van die ooreenkoms wees.
Eskom het gesê dat dit natuurlik ‘n stryd sal wees vir Eskom om te bekostig.
Hulle sê ook dat dit belangrik is om daarop te
let dat terwyl die arbeidsmag terugkeer werk toe, die stelsel nog tyd sal neem
om te herstel. As gevolg van die staking moes instandhoudingswerk uitgestel
word, en hierdie agterstand sal tyd neem om uit te wis.
Na aanleiding van hierdie ooreenkoms het die
National Union of Mineworkers (NUM), die National Union of Metalworkers of
South Africa (NUMSA) en Solidariteit hul lede versoek om onmiddellik terug te
keer werk toe.
Eskom wil ook ‘n beroep op alle werknemers doen
om onmiddellik na hul werkstasies terug te keer om die druk op die stelsel te
verlig en om die diens te lewer wat die mense van Suid-Afrika van Eskom verwag,
en om te help met die herstel van opwekkingsprestasie wat negatief geraak is
deur die onwettige staking.





