Klagtes oor die stink reuk wat al maande lank inwoners van Paarl en Wellington teister, stroom steeds in nadat die munisipaliteit voorheen gesê het hy het die moontlike oorsprong daarvan gevind.
Paarl Post het onderskeidelik met inwoners van Drommedaris en Groenheuwel gesels en hulle het erken dat daar nog geen einde aan die “stink, branderige” reuk is nie.
In Februarie vanjaar het albei die Drakenstein-munisipaliteit en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit bevestig die oorsprong van die stink reuk, waarvoor inwoners keelvol is, kom moontlik van ’n smeulende brand by die vuilwaterdamme by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg.
Hul bevindings is gedeel nadat talle inwoners vingers gewys het na die Drakenstein-krematorium en hulle blameer het vir die haglike reuk.
Met die nuutste klagtes wys alle vingers weer na die krematorium, maar Johann van der Merwe, eienaar van die fasiliteit, sê dat hul deure steeds gesluit is sedert die middel van Maart vanjaar vir opknappings.
Hy het by ’n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê hulle is besig om toeters by die oond te installeer sodat wanneer die temperatuur onder 850 °C daal, dit ’n geluid sal maak.
’n Nuwe vloer is in die oond gelê, die branders is ook vervang en die KWDM het die krematorium aangeraai om ’n deurlopende temperatuurmeter ook in te sit by die oond.
Toe Paarl Post Maandagoggend vir Van der Merwe inlig oor die nuutste klagtes en vir kommentaar gevra het, het hy gesê hy voel asof ’n “komplot” teen die krematorium beplan word omdat hul deure nog gesluit is en hulle geen verassings onlangs gedoen het nie.
Louis Pienaar, Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het by navraag gesê: “Neem asseblief kennis dat ’n brand by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg se vuilwaterdamme een van die moontlike oorsake was van die slegte reuk wat die Wellington gebied in Februarie ervaar het.
“Tans word die reuk wat in die Drommedaris en Groenheuwel gebiede ervaar word veroorsaak deur operasionele uitdagings wat die munisipaliteit se Paarl-afvalwatersuiweringsaanleg in die gesig staar as gevolg van voortdurende hoë vlakke van Eskom-beurtkrag.
“Ons is bewus van die probleem en kan die gemeenskap verseker dat ons bykomende kragopwekker-rugsteunkapasiteit aanskaf om hierdie uitdagings aan te pak.
“Daar is tans geen brande by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg nie.”. Complaints about the stench that has plagued residents of Paarl and Wellington for months are still pouring in.




