Die unieke wynmuseum The story of wine by Babylonstoren skets ’n prentjie van die wynbedryf soos nooit voorheen gesien of ervaar nie.Foto:

Credit: SYSTEM

Het jy geweet ’n Engelsman – nie ’n Fransman nie – was die eerste mens wat borrels in wyn gesit het, wat tot die geboorte van Champagne gelei het?

Of, weet jy die Kaapse wynlandgoed Groot Contantia het so vroeg as die 1800’s al ’n wyn gemaak wat een van Napoleon Bonaparte se gunstelingdrankies was?

Dit is maar net ’n paar van die baie interessante staaltjies wat jy by Babylonstoren in Simondium sal leer, waar ’n splinternuwe, unieke wynervaring pas op die landgoed in die vorm van ’n wynmuseum bekend gestel is.

Die nuwe wynmuseum bied gaste ’n interaktiewe reis deur die geskiedenis van die mensdom se liefdesverhouding met wyn.

Die storie van wyn is die grootste en enigste wynmuseum op hierdie skaal in Afrika en wat die oorsprong, verbouing en kultuur van wynmaak in die Kaap asook wêreldwyd uiteensit. Terselfdertyd is dit ook ’n eietydse vertelling van wyn se antieke tradisies.

Die storie van wyn is ’n ongelooflike sensoriese ervaring. Gaste het die opsie om oudiogidse te gebruik waarin in-diepte kommentaar gelewer word oor elke uitstalling in die museum. Die museum maak voorsiening vir ’n wêreldwye gehoor met sewe verskillende taalopsies.

Stap deur die ingang, of “oerwortel”, ’n reusagtige artistieke struktuur van gedraaide wingerdstokke, en jy word tot in die eerste hoofstuk van Die storie van wyn verplaas.

Etienne Hanekom, die museumontwerper, sê die inspirasie agter hierdie struktuur was om ’n gevoel te skep van die oorsprong van wyn – binne sy diepste wortels en ontstaan.

Etienne het saam met die argitek Jurgen Kieslich gewerk om die verskillende idees in die tweeverdiepingruimte in tasbare en herkenbare kunswerke te konseptualiseer. Die museum is ’n argitektoniese en artistieke wonder wat woorde nie kan beskryf nie – jy moet dit self sien en ervaar.

Besoekers kan uitsien na wynvate waar jy die prop uittrek en ’n kykie binne-in kry, hoe die weer vir die wingerd werk en meer oor boerderypraktyke leer.

Die museum het ook ’n virtuele realiteit (VR-) deel waar jy na twee video’s kan kyk: ’n toer deur die wingerde en een deur die kelder. Danksy die VR-kopstel sal dit voel asof jy self die toer te voet doen.

’n Gunsteling is die deel waar jy ’n aroma ruik, iets voel en dan raai watter aroma van die spesifieke wyn verteenwoordig word.

Dit is nie net lekker om te ruik en te raai nie, maar ook ’n goeie manier om meer oor wyn se aromas te leer.

Die museum vertel die verhaal van wyn van so ver terug as die Middeleeue, deur historiese tydperke soos die Romeinse Ryk.

Daar is ook die “filmiese vat”, ’n vertoonkamer in die vorm van ’n wynvat, met ’n musiekvideo wat gemaak is van wynglasmusiek en die resonansie van water en glas.

Of jy nou ’n wynkenner, passievolle historikus of bloot iemand is wat op soek is na ’n nuwe ervaring om te beleef, bied Die storie van wynwaarlik ’n ervaring om nie mis te loop nie!. ’n Toer deur die museum is gratis en toegang tot die plaas beloop R20 per volwassene en R10 per kind (onder 12 jaar).. A unique wine museum has opened at Babylonstoren in Simondium, telling the entire story of wine and where it comes from through the ages.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article