Enkele ma’s en dié se kindjies het Moedersdag tussen die as en rommel met mekaar se geselskap vertoef.Foto: Heleen Rossouw


’n Handjievol moeders wat langs die Springbok-woonstelle in Chicago, Paarl-Oos, woon, het Moedersdag met ’n somber verlatenheid gevier nadat ’n brand Saterdagaand minstens agt strukture verwoes het.

Só het ’n groep van minstens 30 mense Sondag sonder ’n snoesige heenkome die nasleep van die skade aanskou en stuk-stuk begin herbou en die bitter min van hul besittings wat wel beredder kon word, herwin.

Die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, sê die brand is Saterdag om 19:22 aangemeld, waarna die munisipaliteit se eerste brandweervoertuig om 19:28 by die toneel opgedaag het.

Dit was nog beurtkrag in die omgewing toe die brand uitbreek.

Die inwoners van die gebied sê die brand het binne minute groot verwoesting gesaai – ook danksy die naweek se sterk wind wat die vlamme aangevuur het.

Daarmee saam het omstandighede verdere uitdagings vir die reddingspanne opgelewer toe ’n vroulike brandbestryder boonop ’n besering opgedoen het.

“Een brandbestryder is beseer toe sy geval het. Die omstandighede van die voorval word ondersoek,” sê Esau.

“Al drie brandweerstasies van die Drakenstein asook die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste sowel as die Drakenstein Farm Watch het hulp op die toneel verleen.”

Die vlamme is binne minute om 19:57 geblus. Esau bevestig agt informele wonings is verwoes en 32 mense is dakloos gelaat.

“Hulpverlening wat deur die Drakenstein-munisipaliteit vir die betrokke gesinne verskaf is, sluit kospakkies en komberse in.”

Sommige van die moeders wat die volgende dag op die toneel saamgedrom het, sê hulle waardeer die spoedige reaksie en hulp wat van die munisipaliteit en omringende gemeenskap gekom het.

“Al ons besittings is verwoes, maar die ondersteuning van die munisipaliteit en wyer gemeenskap help tog in die omstandighede. Ons het darem nou kos en warm goed totdat ons weer op ons voete kom.”

Dit was Sondag ’n verblydende gesig toe kerkliedjies kliphard op ’n inwoner se luidsprekers opgeklink het terwyl die groepies mense hier en daar skoongemaak en in samesyn vertoef het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article