Tot groot frustrasie van baie inwoners reg deur die vallei duur onwettige padrenne en “drifting” steeds in die middernagtelike ure voort.

Die jongste klagtes kom uit Wellington, waar inwoners sê hierdie aktiwiteite vind naweek vir naweek by die aansluiting van Hoofstraat en Stokeryweg en ook die R44, ook in Wellington, plaas.

Inwoners van Wellington-Oos sê veral voertuig-“drifting” vind elke naweek op die parkeerterrein buite die Spoorweghotel, asook in die straat self en op die leë grond oorkant, plaas.

Die “drifting” word dan gevolg deur straatrenne óf op die R44 in die rigting van Hermon óf op en af in Hoofweg in Wellington.

(Een leser het ’n video-opname geneem van die stand van sake hier in die middernagtelike ure.)

Volgens inwoners word hierdie aktiwiteite goed georganiseer en skares drom langs hierdie paaie saam om die motorrenne te sien en hulle maak ’n geweldige lawaai.

Soms is in hierdie nagte meer as 40 motors teenwoordig by byvoorbeeld die kruising van Hoof- en Stokeryweg en toeskouers gebruik openlik drank, speel harde musiek in hul motors en raas in die geheel tot so laat as 03:00 in die oggend.

Soms daag die polisie op en verwilder die skares, maar binne ’n halfuur keer hulle net weer terug.

Van wetstoepassers of verkeerspersoneel is daar egter geen sprake nie.

Gerald Esau, direkteur van gemeenskapsdienste van die Drakenstein-munisipaliteit, sê dit is “die eerste keer” dat hierdie spesifieke geval van “drifting” en straatrenne daar onder die Drakenstein-munisipaliteit se aandag gebring word.

“Ons is egter bewus van ’n klagte oor uitbundige lawaai by die Railway-hotel, en taxi’s wat mense veral op ’n Saterdagoggend na bewering onwettig daar oplaai.”

Hy sê voorts die munisipaliteit sal die beweerde “drifting” monitor, en in oorlegpleging met die SAPD, wat klaarblyklik bewus is van hierdie aktiwiteite, verdere optrede beplan om dit te stop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article