’n Familielid en buurman van die drie gesinslede wat onlangs tragies omgekom het toe hul houthut in Chicago aan die ooste van die Paarl in vlamme gehul was, sê hy het moedeloos aanskou hoe die hut tot op die grond afbrand en kon selfs die histeriese geskree van sy tannie, oom en neef vir etlike oomblikke hoor – daarna was daar net stilte.
Paarl Post het verlede week berig minstens drie informele strukture is Dinsdag 17 Oktober in die oggendure in Chicago in ’n brand vernietig.
’n Gedenkdiens is Sondag (22 Oktober) gehou vir Marina Williams (62), haar man, Ruben Jacobs (59), en hul seun, Eugene Jacobs (41), nadat hulle vermoedelik in een van die hutte vasgekeer was en verkool het.
Cameron Sauls, Marina se susterskind, het Dinsdag, presies ’n week ná die tragiese gebeure, aan Paarl Post gesê die hele verhaal speel nog in sy kop af.
Sauls, sy vrou en twee dogtertjies van onderskeidelik (9) en (4) se hut is een van die strukture wat vernietig is.
Hy sê hulle is daardie oggend wakker gemaak deur van die bure wat by hul deur kom skree het.
Die brand het vermoedelik by die drie slagoffers se hut ontstaan, wat sowat 3 m vanaf Sauls se hut geleë was.
“Toe ons wakker skrik en besef wat besig is om te gebeur, het ek en my vrou dadelik die kinders gegryp en hulle uit die hut gekry. My vrou het in die proses probeer kyk wat sy kon red en het ’n paar van die belangrike dokumente gegryp.
“Dit was ’n eienaardige toneel. Die brand het baie vinnig versprei. Ek was in ’n stadium op my eie hut se dak en het die vuur van daar af probeer blus. Die vlamme was te sterk en die waterdruk te laag.”
Hy vertel dat dit op die dak was waar hy besef het sy familielede is nog in hul hut vasgekeer.
“Ek kon hoor hoe hulle skree. Dit was egter net vir ’n paar sekondes. Daarna was daar net stilte. Hulle hut het net een uitgang gehad, en dis juis aan daardie deel van die hut waar die brand ontstaan het. Hul kamer was aan die verste kant van die hut.”
Volgens Sauls is hy daardie selfde aand deur die polisie en forensiese patoloë gevra om die lyke uit te ken.
Hy sê die familie is verpletterd en sukkel nog om die gebeure te verwerk.
Volgens Sauls was daar Sondag ’n groot opkoms by die gedenkdiens – “meer as wat ons verwag het”.
Die drie gesinslede word Vrydag (27 Oktober) by die Klein Parys-begraafplaas in die Paarl ter ruste gelê.





