’n Dief het hom lelik vasgeloop toe hy onlangs ’n vrou van haar waardevolle besittings in die Paarl-middedorp wou besteel.

Legeane Makaba was op 5 Januarie in die FNB-tak in Lady Greystraat toe sy sien iemand is besig om in haar voertuig te krap. Die dapper Makaba het na haar Toyota Fortuner gehardloop en die man gekonfronteer. Hy wou blykbaar haar skootrekenaar, wat in die voertuig was, steel.

Die skelm het glo deur middel van ’n steursender toegang tot Makaba se voertuig verkry. Die toestel wat die verdagte gebruik het, stuur ’n sein wat die voertuig se afstandbeheerder keer om dit behoorlik te sluit terwyl die eienaar van die voertuig onder die indruk is dit is wel gesluit.

Nadat Makaba die verdagte gekonfronteer het, het hy probeer weghardloop, maar sy het hom met haar voertuig agternagesit.

Mike Pretorius en sy vrou was op pad na Rembrandt Mall toe hy sien hoe Makaba die man jaag. Hy onthou hoe sy party plekke letterlik oor die randstene gery het om die skelm in te haal.

“Die vrou (Makaba) het hard uit die motor gegil dat iemand moet help om die skelm te vang. Ek het my motor met vrou in net so in die pad laat staan en die skelm te voet agternagesit,” vertel Pretorius, ’n pensioentrekker.

Die verdagte het by ’n doodloopstraat ingehardloop. Hy was halfpad oor ’n hoë hakkiesdraadheining toe Pretorius hom beetkry.

“Ek het my gewigsvoordeel gebruik en hom teruggetrek na ons kant toe. Die polisie is ontbied en ek het hom letterlik vasgehou totdat hulle opgedaag het.”

Pretorius, en Makaba wat daardie dag as helde beskou word, sê hy is dalk ’n pensioentrekker, maar hy is nog baie fiks omdat hy gereeld draf.

“Ek het al agt Comrades-marathons voltooi. Toe ek sien die vrou jaag die skelm, het instink ingeskop en ek wou help. Skelms moet dit net onthou – ek is nie meer so vinnig nie, maar aanhoudend.”

  • A thief was apprehended shortly after he tried to steal valuables out of a vehicle in the Paarl town centre.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article