Die nagenoeg 400 jaar oue geskiedenis van eikebome in Suid-Afrika kan dalk tot ’n einde kom en die boomlandskap van dorpe en stede soos Kaapstad, George, Paarl, Stellenbosch en Swellendam vir ewig verander.
Volgens ’n navorsingsartikel wat onlangs in die South African Journal of Botany verskyn het, het ekoloë van die Sentrum vir Indringerbiologie (SIB) in die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Klimaatstudie die geskiedenis van die genus Quercus in Suid-Afrika nagespoor – wanneer dit vir die eerste keer hier ingebring is, sy huidige status, asook die faktore wat verantwoordelik is vir die verandering in die verspreiding daarvan oor ons landskappe heen.
Christiaan Gildenhuys, ’n nagraadse student in die US se departement plant- en dierkunde en hoofouteur van die artikel, sê die eerste geskrewe rekord van die steeleik (Quercus robur) dateer uit 1656 en is volgens oorlewering deur Jan van Riebeeck self ingebring.
“Dosyne ander eikeboomspesies is deur vroeë Hollandse setlaars en die Britse koloniale regering ingebring.
“Daarna is dit wydverspreid oor die land aangeplant en het sedertdien een van die mees wydverspreide en herkende boomgenera in hedendaagse Suid-Afrika geword,” verduidelik hy.
indringers
Maar nou is die spesie in ’n doodloopstraat.
Gildenhuys het bevind drie eikeboomspesies – die steeleik, moeraseik, en kurkeik – het op rivieroewers en in die koppelvlakgebiede waar stad en natuur in Stellenbosch en Kaapstad ontmoet, indringers geword. Tans veroorsaak hierdie eikebome nog nie groot probleme as indringers nie, maar kan moontlik in die toekoms.
Terselfdertyd is baie van die spesies (wat die Q. robur of steeleik, wat die mees wydverspreid voorkom, insluit) hoogs vatbaar vir siektes en indringerkewers soos die stompkopkewer.
“Dit beteken baie van die eeue oue eikebome is nie net in gevaar nie, maar besmette bome sal verwyder moet word om te verhoed dat die besmetting verder versprei,” sê Gildenhuys.
Prof. Dave Richardson, ’n ekoloog by die SIB en mede-outeur van die studie, sê die storie van eikebome in Suid-Afrika is ’n klassieke voorbeeld van hoe globale verandering vinnig besig is om die rolle van, en perspektiewe oor, spesies in stedelike gebiede te verander.
vet op die vuur
“Ons moet aanvaar dat die potensiële impak van die stompkopkewer die speelveld gaan verander.
“Die boomlandskap van baie dorpe in Suid-Afrika gaan as gevolg van hierdie indringing nogal radikaal verander. Grondeienaars en owerhede wat besluit om besmette Q. Robur-bome met minder kwesbare boomspesies te vervang, moet ook die potensiële negatiewe invloed van dáárdie spesies oorweeg,” verduidelik hy.
Die ideaal sou wees om die besmette bome te vervang met inheemse bome wat minder vatbaar vir peste en siektes soos die stompneuskewer is.
Hy waarsku egter dat mense se verknogtheid aan hul strate met eikebome vervangingspogings in die wiele kan ry en konflik tussen bestuur en belanghebbendes kan veroorsaak.
Prof. Guy Midgley, waarnemende direkteur van die Skool vir Klimaatstudie, sê die bome lewer ’n lewensnoodsaaklike bydrae om die impak van klimaatsverandering te versag deur die hittestres in stedelike gebiede te verminder.
Aan die ander kant kan die wyse waarop van duisende siek bome ontslae geraak word, ’n groot impak op koolstofvrystelling hê.
Die debat oor die kulturele waarde van eikebome in die algemeen gooi nog vet op die vuur.
In een van die sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing word hierdie eeue oue bome as deel van ons kultuurgeskiedenis gevier.
In ’n ander sektor word hulle as ongewenste oorblyfsels van ’n koloniale verlede beskou.
Interessante historiese feite oor eikebome in Suid-Afrika:. 1656: Eerste geskrewe rekord van Q.robur-spesie in Suid-Afrika.. 1795: Aanplanting van historiese eikelaan tussen Kompanjiestuin en die Parlement in Kaapstad.. 1868: Eerste eikebome in Potchefstroom geplant.. 1910: Aanplanting van historiese eikelaan in Potchefstroom (in 1977 ’n nasionale monument verklaar).. 2012: Eerste rekord van stompneuskewer in Suid-Afrika in KwaZulu-Natal aangemeld.




