’n Kankerdiagnose het die lewe van Eduan Louw en sy familie halsoorkop verander, en toe word hy nog blind ook.
Dit was Februarie 2021, onthou Leonie Louw asof dit gister was toe kanker by haar tienerseun, Eduan, gediagnoseer is.
“Hy was in graad sewe by die Laerskool Noord-Eind. Hy het basies net baie moeg en baie bleek geraak. Die een dag toe hy gelag het terwyl hy met iemand gepraat het, het ek gesien sy tandvleis is spierwit. Ons het ’n afspraak gemaak met die dokter. Dieselfde dag wat ons by die dokter was, is bloed getrek en weggestuur; dit het teruggekom en hy is in die hospitaal opgeneem, en dis waar dit begin het.
“Wat basies gebeur het, is hulle kon net sien sy witbloedselle, rooibloedselle en plaatjietellings was onnatuurlik laag – eintlik so laag dat hy nie sou kon funksioneer of regop staan nie, maar hy het. Dit was ’n tydperk van ses maande waarin hulle (die dokters) probeer uitfigure het wat dit is en hoe diagnoseer ’n mens dit.
“Dit het gewissel tussen aplastic anemia en myelodysplasia. Dit is toe op uiteindelik as myelodysplasia gediagnoseer.”
Miëlodisplastiese sindroom verwys na ’n groep kankers wat keer dat jou bloedstamselle in gesonde bloedselle verouder, dui die webtuiste my.clevelandclinic.org aan. Om die siekte te oorkom, is ’n beenmurgoorplanting nodig.
“Hy was baie afhanklik van bloedoortappings voordat hy ’n beenmurgoorplanting ondergaan het. In die laaste tyd voordat hy ’n oorplanting gekry het, was dit op ’n weeklikse basis. Goddank het ons deur die bone marrow registry iemand in Londen gekry – glo dit of nie – wat toe ingevlieg het.
“Die skenker was ’n 100%-match. Die professor by die Rooikruis-kinderhospitaal het gesê ons moet die operasie doen anders maak dit die kanse vir hom vir oorlewing net soveel minder. Dit was ’n groot en ’n lang proses, maar dit het gewerk. Hy het die beenmurgoorplanting op 21 Julie 2022 ondergaan en is nou in Februarie met die laaste medikasie vir die behandeling klaar. Die dokters moes monitor of die oorplanting suksesvol was en dat die beenmurg funksioneer.”
Die hele proses was uitmergelend vir beide Leonie en Eduan. Leonie vertel aan die begin van haar seun se diagnose toe hy so siek geword het, het sy self soos ’n masjien gefunksioneer. Wat haar deur die proses gehelp het, is dat sy in daardie oomblikke net gefokus het op wat voor haar is.
“Gelukkig was dit so vir my, want die groot prentjie van die berg wat ons moes klim, sal te veel wees vir enige mens om te kan hanteer. Dit kom na jou toe – stukkie vir stukkie. ’n Mens dink nie aan ‘wat as’ nie, want dit sal jou regtigwaar lam maak.”
Eduan, wat vanjaar 16 jaar oud is, het intussen letterlik oornag blind geraak, vertel sy ma.
“Hy het die Saterdagoggend nog gesit en visvang hier by Huckleberry Fish Farm en begin sleg voel.
“Hy het toe stukkies bloed begin hoes. Hy was nie siek of enigsins hoeserig nie en het ook nie verkoue gehad nie. Dit het die dokters baie lank geneem om te bepaal wat die blindheid veroorsaak het. Die volgende oggend toe hy wakker word, toe sê hulle vir my hy het longontsteking en hy het dit opgedoen as gevolg van sy lae immuniteit en niks wat sy liggaam ondersteun nie. Die gehoes het toe bloeding agter sy oë veroorsaak en hy is oornag blind. Hulle het gehoop dat die bloeding self sou opklaar, maar sy liggaam was net vir te lank in ’n verswakte toestand dat hy dit nie reggekry het nie. Toe hy die oorplanting ondergaan het, het ons gehoop dit sal gebeur, maar dit het nie.”
Ten spyte van alles pak Eduan elke dag met nuwe hoop aan en was hy nog nooit mismoedig oor die situasie waarin hy hom bevind nie.
Hy het vanjaar gr. 8 by die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester begin, waar hy leer om braille te lees en te tik.
“Die kind dryf my tot trane. Vir ’n tienerseun – hy was dertien toe al die goed in sy lewe begin afspeel het en hy is nou sestien en hy begin nou eers met graad agt – was hy nog nie een dag negatief of selfs depressief nie.
“ ’n Paar weke gelede het hy gaan visvang as deel van die blinde SA varswater-hengelspan by ’n kompetisie by die Bloemhofdam in die Noord-Kaap.” Hoewel dit ’n groot aanpassing is om die lewe nou aan te pak sonder sig, staan dit nie in Eduan se pad om homself te herontdek nie.





