Namate restaurante, koffiewinkels en bakkerye in die vallei ’n sug van verligting kon slaak toe die Covid-19-regulasies uiteindelik opgeskort is, bring konstante beurtkrag verdere terugslae.
Susanna Tecklenburg van die Oude Wellington-restaurant buite die dorp sê hulle probeer hul restaurant van dag tot dag bestuur.
“Dit is die derde week dat ons verliese ly sedert dié vlae beurtkrag ingestel is. Ons sukkel om die restaurant oop te hou met al die onsekere fases beurtkrag, ten spyte van die feit dat ons ’n reusekragopwekker het. Ons probeer ons bes om so te funksioneer, maar die kragopwekker kan nie al die kragpunte vir alle doeleindes akkommodeer nie.”
Tecklenburg sê hulle het die spyskaart telkemale aangepas om voorsiening te maak om vars produkte en billike pryse te waarborg.
“Ons is gedwing om bietjies-bietjies varsprodukte daagliks aan te skaf, wat groter uitgawes soos ekstra brandstofverbruik en tyd verg. Hope suiwelprodukte, soos vars room en melk, het al afgegaan. Ek sidder om te dink hoe groot restaurante met inloop-yskaste moet byhou.”
Dié uitdagings, gekoppel aan klante se ongeduld en frustrasie in die omstandighede, het Tecklenburg al in trane gehad.
“Gelukkig het ons die trou-venue wat nog inkomste genereer, aangesien dit nie dieselfde uitdagings inhou as die restaurant se instapdiens nie.”
Sy sê hulle kom toenemend met vernuwende idees vorendag, ’n nuwe buite-oond wat gebou word en ’n nuwe spyskaart.
“Dié spyskaart is van die einde Junie aangepas en neem beurtkrag in ag.”
Deon Visaggio, die eienaar van Café Sophia in die Paarl, sê sy werksdae het in middernagtelike ure ontaard.
“Die beurtkrag is horrible! Dit gaan soggens vroeg af gedurende ons skeptyd, wat ontbyt is, terwyl ons bak-en-brou, koffie en ons buffet-styl etes moet voorsit.”
Hy kla oor kragopwekkers wat nie sterk genoeg is om hul groot koffiemasjiene en bakoonde aan die gang te hou nie.
“Dit beteken ons werk na-ure wanneer daar wel krag is om vir verlore tyd voorsiening te maak, wat beteken ek moet my personeel oortyd betaal. Soggens is ek al sesuur aan die gang om solank filterkoffie te maak wat ek dan in flesse skink om warm te bly tydens ontbyt-ure as die krag weer tussen 08:00 en 10:30 afgaan.”
Visaggio kom oor die weg deur sponskoeke aan te skaf en steeds koeke te verkoop, waar hulle dit normaalweg self bak.
“Daar is alternatiewe om aan die gang te bly, maar dis ongelooflik ongerieflik!”
Die Woeker-en-Woel-bakkery naby Lady Greystraat sal hopelik nog sy 50ste verjaarsdag in 2023 vier.
“Dis nou te sê as konstante beurtkrag ons nie dwing om ons deure finaal te sluit nie,” meen Elsa Burger, die bakkery se bestuurder en voorsitter.
“Covid-19 het ons tot nou die dag nog beetgehad, en ons is tans nog besig om van daardie verliese te herstel. Volgende jaar word Woeker-en-Woel 50 jaar oud, maar ons is nie seker of ons dié mylpaal sal kan haal nie.”
Burger sê die gebruik van kragopwekkers is nie juis die moeite werd nie en hulle kan slegs bak as die ligte aan is.
“Aangesien brandstofpryse aanhou styg, is opwekkers nie eens vir ons ’n opsie nie. Ek en my man moes vanoggend 02:00 opstaan om bestellings te kan bak.
“Dit lyk nie asof daar lig aan die einde van dié tonnel gaan wees nie,” bieg sy.
- The constant surge of load shedding is hitting restaurants and cafés the hardest. This, after the Covid-pandemic’s harsh grip on the industry resulted in establishments’ hopelessly recovering as continual power interruptions make it impossible to turn profits back to normal.





