Tragedie het laat Mandagmiddag ’n familie op die ou Lustigan-plaas in die Paarl getref toe ’n kindjie van een jaar oud in ’n diep emmer beland en verdrink het.
’n Aktiewe vrywilliger van Drakenstein-plaaswag (DFW), Kobus van Staden, vertel hy het die noodoproep om 14:41 ontvang en na die toneel, waar die kind bewusteloos gelê het, gehaas.
“Ons het maklik 20 minute lank gespook om CPR op die kind toe te pas voor die ambulans daar aangekom het. Vandaar was verdere reddingspogings deur die ambulansdienste op pad hospitaal toe uitgevoer.
“Ongelukkig het die kind in die rit op pad hospitaal toe gesterf,” sê ’n hartseer Van Staden.
Hy vermoed die kindjie was moontlik te lank in die water vir ’n kardiopulmonêre resussitasie om die kind se toestand te beredder.
Met van die gesinslede wat tuis was, was dit volgens hom ’n pure frats vanweë die kindjie onskuldig buite die huis gewandel het.
“Die kind het rondgewandel en by die buurman se erf geëindig. Hy het vermoedelik by twee voorstoeptrappies opgeklim en vooroor in ’n emmer geval.”
Hy verduidelik dat die emmer juis buite gesit is om reënwater mee op te vang en dit was sonder ’n deksel op die voorstoep.
“Dit is eenvoudig ’n tragiese sameloop van omstandighede. Die jong ma is baie erg oor die kind en het glo minute voor die ongeluk hom nog van die lang gras, waar daar glasstukke was, weggehaal.”
Vir die reddingswerkers agter die skerms, soos Van Staden en die DFW se Anthea Carlse wat op die voorval reageer het, is die impak van so ’n tragedie ook groot.
Lees die volledige berig in Donderdag se uitgawe van Paarl Post.





