Die Taalmonument en Haarhoff bied weer gewilde fotografie-werksessies vir beginners en meer bekwame fotograwe aan.
Vir dié wat wens hulle kan onvergeetlike oomblikke en tonele beter vasvang en verewig, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op 2 September en 7 Oktober (Saterdae) weer twee werksessies met die fotografie-meester Peter Haarhoff aan.
As jy wil ophou om jou kamera op outomaties gestel te gebruik en nie tyd vir lang fotografiekursusse het nie, is die genotvolle eendagkursus vir beginners op 2 September ideaal. Dit is ’n praktiese, tweetalige program wat beteken jy kan dit wat jy geleer het, onmiddellik onder die wakende oog van jou dosent en foto-afrigter beoefen. Die teorie vind in die lesinglokaal plaas, waarna almal oefen hoe om fantastiese foto’s van mense, die natuur en die struktuur by die skilderagtige monument te neem. Die volgende aspekte sal belig word:
. Neem beheer oor jou DSLR-kamera;
. Hoe om program- en handmatige (manual control) opsies te gebruik;
. Hoe om die lensopening en die velddiepte te beheer;
. Stel jou sluiterspoed in vir waarlik skeppende fotografie;
. Witbalans en ISO-instellings;
. Flitsfotografie en beligting-kompensasie;
. Filters en sosiale media soos Instagram; en
. Hoe om beter foto’s op te stel.
Die gevorderde eendagkursus op 7 Oktober is ideaal vir deelnemers wat ’n beginnerskursus voltooi het of ’n goeie begrip van sluiterspoed, diafragma en ISO-instellings het en gemaklik voel om foto’s in die handmatige modus te neem.
As jy jou fotografie na die volgende vlak wil neem, sal jy hier leer hoe om uitstaande foto’s te neem deur meer komplekse kamerategnieke te verken en nuwe denke op die fotografiese proses toe te pas.
Al twee kursusse vind by die Taalmonument op Paarlberg vanaf 09:00 tot 16:00 plaas. Dit kos slegs R400 per persoon. Deelnemers kan hul eie middagete bring of die Suikerkan-bistro ondersteun, waar hulle 15%-afslag sal ontvang. Deelnemers moet hul eie DSLR-kamera of enige kamera met handmatige beheer (manual control) bring – geen selfoonkameras nie. Plekke is beperk. Bespreek dus vroegtydig by Elsabè Pearce by 021 872 3441 of per e-pos by ontvangs@taalmuseum.co.za om deelname te verseker.




