Edgar Arendse saam met GOOD-leier Patricia de Lille gedurende ’n verkiesing.Foto: Facebook


Die GOOD-party se voormalige Drakenstein-raadslid, Edgar Arendse, kap terug met sy eie bewerings van valshede wat deur die party voorgehou word.

Dit volg nadat die party hom by die Onafhanklike Verkiesingskommissie aangemeld en strafregtelike klagte by die Valke ingedien het ingevolge artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite.

“Die stelling wat Brett Herron, sekretaris-generaal van GOOD, op 12 Januarie 2023 gemaak het, is blatante leuens en daar is geen waarheid daarin nie,” lui Arendse se reaksie.

In ’n aanvanklike verklaring uitgereik deur Herron is Arendse glo in ’n tug- verhoor onder voorsitterskap van ’n onafhanklike deskundige skuldig bevind op sewe aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye.

“Die aanklagte teen Arendse het verband gehou met die onwettige aanvra van ‘ledegeld’ en ‘finansiering’ van GOOD-lede, en ‘skenkings’ van lede van die publiek,” aldus Herron se verklaring.

Herron beweer “al hierdie geld het reguit na sy sak gegaan. Geen (skenking) is aan die party verklaar of in sy bank­rekening gedeponeer soos vereis deur die Politieke Party-finansieringswet nie”.

Herron sê GOOD hef nie ledegeld nie.

“Dit teken lede aan wat geregistreerde kiesers is en die party se waardes en vier pilare van ruimtelike, sosiale, ekonomiese en omgewingsgeregtigheid onderskryf.”

Intussen is die voormalige Springbok-rugbyafrigter en GOOD-burgemeesterskandidaat, Peter de Villiers, genomineer om terug te keer om die GOOD-koukus in die Drakenstein-raad te lei, terwyl hy ook die party in die Kaapse Wynland-distriksraad verteenwoordig.

Arendse sê nou daar is geen ledegeld ontvang van enige lid wat by GOOD in die Drakenstein-munisipaliteit aangesluit het nie.

“GOOD het nog nooit enige ledegeld gevra nie, waarvan almal deeglik bewus is,” sê hy.

Arendse verduidelik dat die munisipale sekretaris en tesourier destyds R500 van kandidate vir hul plakkate en steunborde ontvang het, omdat die party nie die geld gehad het om kandidate van plakkate te voorsien nie.

“Ons het daarin geslaag om na mense uit te reik, hulp van mense versoek en uiteindelik ’n borgskap vir ons plakkate gekry.

“Ons het reëlings met die kantoor getref dat die borg die geld direk in die verskaffer se rekening inbetaal, waarvoor ons duidelike opdrag van die nasionale kantoor ontvang het.”

Die geld wat vir alle kandidate bygedra is, sê Arendse, is vir die steun-plakkate gebruik.

“[Ons] het direk met die verskaffer gehandel wat die party van steun-plakkate voorsien het.

“ ’n Boodskap is gekommunikeer dat die party nie genoeg geld het om elke kandidaat van plakkate te voorsien tydens die 2021- plaaslike regeringsverkiesing nie.

“Ons as die munisipale veldtogspan, waarvan ek as voorsitter verkies is, het dit op onsself geneem en ’n vergadering met alle kandidate gehou en die kommunikasie van hoofkantoor verduidelik,” sê hy.

Arendse beweer ook dat alle kandidate ingestem het dat elkeen bydraes vir hul eie steunborde sou lewer en dat elke wykskandidaat in Drakenstein 100 plakkate en steunborde elk ontvang het wat nie deur GOOD betaal is nie.

Arendse glo die aanklagte is ’n aanval op sy karakter en sy politieke toekoms, en verontagsaam sy familie.

“Brett Herron moet dit aan die media duidelik maak wat sy leiers se agenda was en hoekom hulle my moes uitkry.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article