Die sewe-en-dertigjarige Eddie Wallace van Wellington is te sien in die werklikheidsreeks Die groot afskud op VIA waarin hy en sy mededeelnemers probeer om gewig te verloor.
Wallace, wat aan die begin van die kompetisie 227 kg geweeg het, vertel dat hy gedink het hy skryf in vir die kompetisie vir die grap, maar toe hy gekies word, het hy besef dat daar geen omdraaikans is nie.
Die deelnemers is in twee spanne van drie elk verdeel en met die ondersteuning van die “afskud-afrigters”, wat bestaan uit ’n sielkundige, ’n dieetkundige en ’n fiksheidsafrigter, probeer hulle hul bes om gewig te verloor.
Die spanne ding mee om ’n geldprys van R300 000, en die span wat aan die einde van die ses maande die meeste kilo’s afgeskud het, wen dié prys.
Elke tweede week sal daar ook ’n uitdaging by die afskudhuis wees waar die voorlopers ’n aansporingsprys kan losslaan.
“Maar dis regtig hoogtyd. Ek is moeg van moeg wees wanneer ek byvoorbeeld moet trappe klim as ek huise vir mense gaan wys. En ek is regtig verslaaf aan kos – heeltyd en altyd aan die kou.”
Wallace vertel sy grootste motivering is sy vierjarige seuntjie Eddie.
“Ek doen dit vir hom en natuurlik vir myself en my familie.”
Hy sê dat besef dat hierdie reis is geen quick fix nie.
“Ek was net keelvol vir hoe ek lyk en my gewig het regtigwaar alles beïnvloed. Ek was neerslagtig, negatief en wou skaars winkel toe. Ek was altyd groot, maar toe ek 26 word, het die wiele net begin afval.
“Ek het op ’n keer 60 kg verloor, maar toe weer alles opgetel en kyk waar staan ek nou.”
Oor wat sy grootste uitdagings sover in die kompetisie is, sê Wallace dat dit is om homself elke dag te motiveer en om positief te bly. “Veral as mens getart word met ’n ou soet dingetjie.”
“Ek geniet natuurlik die ondersteuning van elke spanlid en die afrigters, maar wat ek die meeste geniet, is die challenges en die feit dat ons elke dag meer leer oor hoe om ’n gesonder leefstyl te leef sonder om te voel dat jy elke dag gestraf word met net groente eet.”
Volgens Wallace kan kykers uitsien na baie gelag, gehuil en ’n paar onverwagte verrassings.
* Die groot afskud is Dinsdae om 20:00 te sien op VIA (DStv-kanaal 147), met heruitsendings Saterdae om 19:00 en Sondag om 11:00.
* Paarl Post het vroeër berig dat die Paarlse fiksheidsafrigter Olivia Losper een van die fiksheidsafrigters in dié werklikheidsreeks is.





