Met die petrolprys wat aan die begin van Maart die R20- kerf oorgesteek het, staar nie net voertuiggebruikers nog ’n styging in die gesig nie, maar sal dit ’n rimpel-effek teweeg bring en die voedselketting negatief beïnvloed.

Anders as wat baie dink, raak die stygende petrolprys, wat nou op R20,88 staan in kusgebiede en R21,35 in die binneland, nie net voertuigeienaars nie, maar het dit ook ’n groot invloed op onder meer kospryse asook die publieke vervoerdienste.

Suid-Afrikaners kan rekordstygings in brandstofpryse in April verwag, wat nog ’n ekonomiese skok vir verbruikers sal wees wat reeds onder stygende kostes gebuk gaan.

Die Sentrale Energiefonds (CEF) het verlede week sy middelmaand-skatting bekendgestel en voorspel, gegrond op huidige data, dat brandstofpryse tot R24/l kan styg en diesel tot R23,60/l. Op grond van hierdie data sal 95 oktaan-petrol met R2,15/l styg, 93 oktaan sal na verwagting met R2,07/l styg, diesel met tussen R2,94/l en R3,08/l en paraffien met R2,51/l.

Die vervoer van voedsel van produsente tot by winkels sal ook geraak word en indien nie reeds nie, heel waarskynlik ook tot ’n styging lei sodat hoër vervoerkoste gedek kan word.

Nie net krap voertuigeienaars kop oor hoe hulle hul petrol sover moontlik kan rek nie, maar word die minibustaxi-bedryf ook erg hierdeur geraak.

Hoewel taxi’s dikwels in die spervuur kom, bied hulle vir miljoene pendelaars ’n diens om hulle van een plek na ’n ander te vervoer. Dit kos deesdae minder om maar jou motor agter slot en grendel te hou en openbare vervoer te gebruik – nie net weens die petrolkoste nie, maar ook duur instandhouding van voertuie.

Volgens Sedick van Wyk, eienaar van minibus-taxi’s in die Paarl, het die petrolprys hul bedryf hard geslaan en vrees hy vir wat kom. Hy sê dit het hierdie maand ’n bietjie beter gegaan met taxi’s wat diesel gebruik, maar dit gaan maar broekskeur vir taxi’s wat petrol gebruik.

“Amper die helfte van die geld wat jy maak, gaan vir petrol. Net Saterdag het my bestuurder R800 se petrol ingegooi en dit is slegs vir een taxi en slegs vir die een dag. Jy moet dan nog onthou jy moet jou bestuurder betaal en die persoon wat die geld inneem ook betaal.”

Hy meen die taxibedryf is nog lonend wanneer jy vier, vyf of meer taxi’s op die pad het, maar dat die eienaars wat net een of twee taxi’s het maar swaar trek.

“Ek weet nie hoe gaan eienaars wat nog paaiemente op hul taxi’s betaal dit maak nie, veral nie as die rentekoers weer styg nie en as daar nog ’n verhoging in die petrolprys kom nie.”

Hy sê hulle wag maar om te hoor wanneer daar ’n verhoging in passasierstariewe gaan wees en noem dat sommige eienaars reeds uit hul eie hul prys opgestoot het om kop bo water te hou.

Golden Arrow-busdiens het ook verlede week ’n prysverhoging van 8% aangekondig na aanleiding van die stygende petrolprys.

Weens MetroRail se diens wat wispelturig is, asook sekere taxiroetes tussen Paarl en Kaapstad wat gesluit bly weens taxigeweld, maak talle inwoners van Drakenstein staat op hierdie busvervoer na en vanaf hul werksplekke.

Die enigste goeie nuus tot dusver vanjaar in verband met die brandstofprys is die aan­kondiging in die Begrotings­rede deur die minister van finansies dat die algemene brandstof- en padongelukke­fondsheffings nie vanjaar sal styg nie.

Op plaaslike sosialemedia­platforms deel inwoners verwoed raad oor waar om die goedkoopste kookolie aan te skaf en is daar reeds ’n vrees onder inwoners dat die prys van kookolie binnekort die hoogte in gaan skiet of nie op die rakke sal wees nie.

Dirk Breytenbach, voorsitter van die Drakenstein-sakekamer, het gesê hy het slapelose nagte oor die stand van sake.

“Terwyl die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne alle nuusinstansies dwarsoor die wêreld oorheers, het ’n onlangse berig op ’n sakeblad oor die prys van basiese kos my in ’n ligte sweetjie laat uitslaan.

“Op die oog af lyk die gemiddelde styging van 5,6% van 17 produkte waarop gefokus is tussen Februarie 2021 en Februarie 2022 nie te wreed nie, maar dit was die laaste paragraaf in die berig, wat my weer eens laat besef het ons staan aan die vooraand van ’n enorme krisis in Suid-Afrika.

“Volgens die berig deur Hanlie Stadler is daar deur die PMBEJD-organisasie bevind mense wat die minimumloon kry, moes verlede maand ongeveer 58% van hul inkomste aan elektrisiteit en vervoer werk toe bestee!

“Dit is absoluut skrikwekkend en die jongste styging in die petrolprys asook die verhoging in kragtariewe, wat in April van krag word, is nog nie daarby ingereken nie.

“Met die oorlog in volle gang en met niks op die horison wat op ’n einde daarvan dui nie, kan hierdie syfers skielik baie hoër raak. Veral die prys van brandstof, wat weer ’n invloed op kospryse sal hê.

“Suid-Afrika kan nog nie heeltemal praat van ’n humanitêre krisis nie, maar met ’n werkloosheidsyfer van bykans 46%, misdaad buite beheer en ’n paar ander faktore kort dit net ’n klein stampie om oor daardie rand te tuimel.”

. With the massive increases in the petrol price which affects each and everybody’s pockets with rising costs, is the country heading for a humanitarian crisis?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article