Meer as 6 000 hardlopers het vroegoggend verlede Woensdag (1 Mei) op die skilderagtige Wynlandse dorpie Wellington vir die Rhodes Quality-halfmarathon toegesak.
Hierdie halfmarathon, wat al langer as 30 jaar beslis word, word beskou as een van die Kaapse Wynland se mooiste en roemrykste padwedlope.
Vroeër vanjaar is aangekondig dat die plaaslike voedselreus, Rhodes Quality, die borgskap van dié vooraanstaande halfmarathon in die Boland oorgeneem het – en dit beloof ná verlede Woensdag om van krag tot krag te gaan.
Woensdag se onderskeie wedlope – die halfmarathon, 14,5 km-tyd-wedloop, 10-km- en 5-km-padwedlope – het in bykans perfekte herfsweer afgespeel en by die eindpunt by die Hugenote Hoërskool se sportvelde was daar voorwaar ’n feestelike atmosfeer van samesyn en opwinding.
Die organiseerders van die wedlope, Top Events, sê al die padwedlope was ’n groot sukses en is klaarblyklik deur ’n ieder en ’n elk wat gehardloop, gestap en selfs spottenderwys tot by die eindstreep gekruip het, geniet.
“Ons bedank al ons borge, die Drakenstein-munisipaliteit asook al die atlete wat kom hardloop het. Ons sien daarna uit om julle volgende jaar weer in Wellington te verwelkom.”




