Die munisipaliteit se dromkrapper-projek is slegs maande nadat dit in werking gestel is, gekanselleer.Foto: Lise Beyers


Minder as vyf maande nadat die Drakenstein-munisipaliteit ’n toetsprojek van stapel gestuur het om “dromkrappers” in wettige herwinningsentrepreneurs om te skep, is die projek geskrap.

Dié projek, wat uit die staanspoor baie teenkanting uit die gemeenskap ontvang het, is Dinsdag tydens die munisipale raadsvergadering geskrap.

Paarl Post het in November 2022 berig die doel van die projek was vir die munisipaliteit om informele herwinners (en in sommige gevalle oortreders) te bestuur en te poog om hulle ook in die vasteafvalpraktyk te integreer, maar groot kommer het geheers oor of die munisipaliteit bevoeg sal wees om die program te reguleer asook om reg en orde te handhaaf.

Ongelukkigheid het ook gespruit uit die feit dat inwoners voel hulle is glad nie in die saak geken nie. Die buurtwagte in Suider- en Noorder-Paarl het ook uitgelig dat hulle daarteen gekant is omdat dit die buurtwagte, die polisie asook veiligheidsmaatskappye se taak bemoeilik wanneer onderskei moet word tussen gesteelde goedere wat in trollies vervoer word en stukkende toestelle wat weggegooi is.

Omdat informele versamelaars reeds die woonbuurte se strate bemors waar hulle sit en vullis uitsorteer, was inwoners bekommerd dat die situasie van vuil buurte deur die straat-trollie-projek vererger gaan word.

Die burgemeester van die Drakenstein, Conrad Poole, het op navrae oor die beëindiging van die projek gesê ’n besluit is geneem om die projek te staak ná die ontvangs van ’n verslag oor die straat-trollie-loodsprojek self en die daaropvolgende aanbeveling wat in dié verband deur die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, gemaak is.

Volgens die munisipaliteit is die straattrollie-vullisherwinningsprojek aan die einde van 2022 begin.

Die munisipaliteit beraam dat 120 tot 150 informele straattrollie-herwinners in die sentrale sakegebiede en woonbuurte van die Paarl en Wellington rondloop.

“Ons bedoeling was – vanuit ’n humanitêre oogpunt – om mense te ondersteun wat poog om in moeilike ekonomiese tye brood op die tafel vir hul gesinne te sit. Die munisipaliteit ondersteun enigiemand wat daartoe verbind is om ’n bestaan op ’n ordelike wyse te maak,” het Poole gesê.

Die munisipaliteit het die afgelope paar jaar verskeie innoverende projekte en programme van stapel gestuur om afvalverwante uitdagings doeltreffend te hanteer. Dit sluit in sy wastepreneur-projek, waarin onwettige en dikwels swak gedissiplineerde vullisverwyderaars in ordelike, wettige afvalentrepreneurs omskep is, wat nou in veiliger omstandighede werk en ’n volhoubare maandelikse inkomste verdien.

“Baie van die straattrollie-herwinnersprojek se sukses het egter afgehang van die deelnemers se nakoming van duidelik gestipuleerde reëls, wat nie gebeur het nie; daarom is die projek nou gekanselleer,” het Poole gesê.

Volgens Poole is die tydelike permitte wat in hierdie verband uitgereik is ook teruggetrek.

Die VF Plus in die Drakenstein het kort ná die beslissing in die raad ’n mediavrystelling oor dié aangeleentheid by monde van die raadslede Attie du Plessis en Stephan Landsberg uitgereik.

“Die projek om dromkrappers te orden en vullis direk uit vullisdromme op straat uit te sorteer, het in die gesig van die DA-burgemeester, Conrad Poole, en sy burgemeesterskomiteelid, Lorraine Cyster, ontplof. Eerstens was daar geen besluit op enige vlak – portfeuljekomitee, burgemeesterskomitee of raadsvergadering – geneem om die projek van stapel te stuur nie. Die VF Plus verwelkom die feit dat die burgemeester by die raadsvergadering van 28 Februarie uiteindelik die handdoek ingegooi en die projek opgeskort het.

“Inwoners betaal ten duurste vir vullisverwydering en het die reg om te eis dat dit ordelik hanteer word. Vullisdromme plus ’n sak met herwinbare items word op straat uitgesit, waar dit die verantwoordelikheid van Drakenstein-munisipaliteit is om dit te verwyder. Die VF Plus verwerp die scenario indien dit DA-beleid is om vullisdromme vir straatslapers en ander in nood oop te stel om vir kosafval te krap. Indien wel, moet hulle die vullissakke na ’n punt verwyder waar hulle na hartelus daarin kan krap, maar nie in die strate nie. ’n Dringende geleentheid behoort deur die DM geskep te word vir ’n gepreksforum van NGO’s, kerke, welsynsinstansies en wie ook al om te beraadslaag oor ’n behoorlik gekoördineerde poging en om te sien na die nood van straatslapers en andere se nood vir kos. Die DM betaal die prys vir ordelike verstedeliking, maar het geen plan op die tafel om die massamigrasie van werklose mense met al die gepaardgaande sosiale probleme daadwerklik aan te pak nie.”

. Barely five months after the Municipality launched a street trolley waste pickers project to benefit informal recyclers, the project has been abandoned.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article