Talle Paarliete gaan glo gebuk onder maagaandoenings wat hulle toeskryf aan die swak watergehalte.
Die Drakenstein-munisipaliteit meen egter daar skort niks met sy drinkwater nie.
Volgens ’n woordvoerder van die munisipaliteit, Riana Geldenhuys, was hul aandag gefokus op die fopnuus wat op sosiale media versprei word.
“Hierdie misverstand was vermoedelik as gevolg van ’n mediaverklaring wat deur Kaapstad uitgereik is wat sê Suid-Afrika ervaar ’n landwye tekort aan chloorgas, wat gebruik word om water te behandel. Drakenstein-munisipaliteit kan waarborg dat die kraanwater veilig is om te drink en hoef nie vooraf gekook te word nie.”
Geldenhuys het verduidelik dat die munisipaliteit tans alternatiewe chloorgasse gebruik om die landwye tekort te vervang.
“Dus verseker ons dat die drinkwater aan die minimum SANS41-standaarde voldoen. Sommige inwoners mag dalk ’n grondsmaak in die water proe wat deur die geosmin in die rou watervoorsiening teenwoordig is.”
Geosmin, verduidelik sy, is ’n natuurlike organiese komponent wat dié soort smaak wat soos beet proe, veroorsaak.
“Geosmin hou geen gevaar vir menslike gebruik in nie. Die komponent is soms, veral gedurende warm maande, teenwoordig.”




