Drie mense, twee kinders en hul ma, is gisteraand in ’n gasontploffing in ’n spazawinkel in Franschhoek beseer.
Volgens Kurt Maske, ’n ER24-paramedikus, het ’n gasbottel vermoedelik ontplof in die winkel op die hoek van Upper- en Lower Lea Smithstraat in Groendal.
Die ontploffing het tot ’n brand gelei wat geblus moes word.
Franschhoek First Responders, die Franschhoek-polisie en die plaaslike brandweer het hulle na die toneel gehaas.
Maske het gesê die winkel het slegs gedeeltelike brandskade opgedoen, maar dat die twee minderjariges en hul ma ernstige brandwonde opgedoen het.
LEES OOK: Franschhoek, omliggende gebiede sonder krag weens voortslepende brande
Die ma het brandwonde oor haar hele liggaam opgedoen, terwyl die sesjarige brandwonde aan sy arms, bene, bors, gesig en rug gehad het. Die ander minderjarige, ’n 16-jarige seun, het brandwonde aan sy bene opgedoen.
Die vrou en haar twee seuns is na ’n hospitaal vervoer.
Met Maske se aankoms op die toneel was die ma glo in ’n toestand van skok.
Paarl Post het die Franschhoek-polisie vir kommentaar genader. Terugvoering sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.





