As ywerige langafstandatleet wil ek net graag ander hardlopers, of gewoonweg mense wat bietjie draf of stap vir oefening, waarsku om deesdae uiters versigtig te wees met wanneer en waar hulle oefen.

Onlangs het ek twee baie onaangename ervarings gehad terwyl ek in die Paarl gehardloop het.

’n Paar weke gelede is ek ge-ambush in Noorder-Paarl tydens ’n hardloopsessie. Jong mans het my probeer beroof toe ek gehardloop het. Hulle het duidelik die afgelope ruk my bewegings dopgehou.

Verlede week het ek my roete verander en in die dorp gehardloop. Maar by Markstraat se kant is ek byna aangeval deur ’n man wat met ’n stukkende gholfstok as wapen rondgeloop het.

Die jongste voorval was naby die parkie langs die rolbalklub – duidelik ook die skuil- en slaapplek van die kwaaddoener.

Nou, nadat ek al baie jare lank deur die Paarl hardloop, gaan ek baie versigtig moet wees. Maar kommerwekkend wel is dat albei gevalle plaasgevind het in daglig-ure en in gebiede waar daar baie voete is.

Lyk my die skelms en boewe gee nie meer hiervoor om nie en is ook glad nie bang vir’n polisieman of wetstoepasser nie.

Asseblief mense, wees versigtig want niemand is meer veilig nie.


Michelle,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article