Die verkeer in Drakenstein sal na verwagting binnekort beter vloei met die hulp van 15 nuwe puntdiensbeamptes wat hiér aangestel is.
Drakenstein-munisipaliteit het gister, Donderdag, 19 Januarie, die eerste munisipaliteit in die Wes-Kaap geword om amptelik die OUTsurance Paarl Pointsman-projek van stapel te stuur, in samewerking met OUTsurance en Traffic FreeFlow Winelands, ’n onafhanklike maatskappy wat die Pointsman-projek besit en bestuur.
Volgens die munisipaliteit is die doel van die projek om te help om padgebruikers se daaglikse pendel in die area so stresvry moontlik te maak. Die projek skep ook werksgeleenthede vir jong mans en vroue.
“Die Pointsman-projek het ’n bewese rekord om te help om verkeersopeenhopings te verlig, veral tydens spitstye en wanneer Eskom-beurtkrag verkeersligte beïnvloed; by te dra tot padveiligheid (byvoorbeeld om leerders te help om besige kruisings veilig oor te steek); asook die skep van werksgeleenthede vir minderbevoorregte gemeenskappe,” het Gerald Esau van die Drakenstein-munisipaliteit gesê.
Daar is twee tipes puntdiensbeamptes wat deel van die projek is: Statiese puntdiensbeamptes wat aan spesifieke kruisings toegewys word en mobiele puntdiensbeamptes wat op kort kennisgewing, na verkeersbrandpunte gestuur word.
Die munisipaliteit het verduidelik dat die Pointsmen-projek as volg werk: OUTsurance werf en kies belangstellende aansoekers uit ’n gesentraliseerde databasis. Individue met ’n minimum van ’n senior sertifikaat en ’n passie vir verkeersregulering word oorweeg.
Die 15 puntdiensbeamptes (mans en vroue) is op ’n vyfjaarkontrak aangestel. Die puntdiensbeamptes voltooi ook ’n opleidingskursus wat aangebied word deur die munisipaliteit se verkeersdienste-afdeling. Hulle sal ook toegerus word met unieke OUTsurance-uniforms, selfone met data asook ’n bromponie.
Ná gister se bekendstelling sal Drakenstein se nuwe puntdiensbeamptes ’n drie weke lange werkskadu-geleentheid kry onder leiding van ervare verkeersbeamptes van die munisipaliteit. Daarna sal die puntdiensbeamptes by sleutelkruisings regoor Drakenstein ontplooi word.
OUTsurance is die hoofborg van die Pointsman-projek.





