Foto ter illustrasie.

Gallo Images

Die Drakenstein-munisipaliteit is volgens die nasionale departement van water en sanitasie een van die beste watergehalteverskaffers in die land, en hiervoor is hy weer eens Bloudruppel-status toegeken.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die Wes-Kaapse munisipaliteite en entiteite gelukgewens, wat altesaam 15 Bloudruppel-sertifiserings ontvang het in die 2023 Bloudruppelverslag soos gepubliseer deur die nasionale departement van water en sanitasie. Die verslag evalueer watervoorsieningstelsels volgens die ontwerpkapasiteit, bedryfskapasiteit, watergehalte, tegniese vaardighede en waterveiligheidsplan.

“In die vorige verslag van 2014 het ons agt Bloudruppel-sertifiserings ontvang, dus het ons vordering gemaak en ek wil die entiteite bedank en erkenning gee aan die entiteite wat hard gewerk het om hul status te handhaaf en ook diegene wat verbeter het op hierdie baie belangrike diensleweringsmaatstaf,” het Bredell gesê.

Die Bloudruppel-sertifisering is toegeken aan watervoorsieningstelsels in:. Die Drakenstein-munisipaliteit,. die Bergrivier-munisipaliteit,. die Stad Kaapstad Metro,. die George-munisipaliteit,. die Overstrand-munisipaliteit (Baardskeerdersbos, Buffeljagsbaai, Buffelsrivier, Groter Gansbaai, Groter Hermanus, Kleinmond, Pearly Beach en Stanford),. die Saldanhabaai-munisipaliteit,. die Swartland-munisipaliteit en. die Theewaterskloof-munisipaliteit.

Bredell het gesê uitdagings wat in die verslag geïdentifiseer is, moet ook erken en aangepak word. Volgens die verslag is agt watervoorsieningstelsels in ’n kritieke toestand – die Beaufort-Wes-munisipaliteit (Murraysburg en Nelspoort), die Hessequa-munisipaliteit (Jongensfontein), die Kannaland-munisipaliteit (Ladismith, Van Wyksdorp en Zoar) en die Prins Albert-munisipaliteit (Klaarstroom, Prins Albert).

“Die departement van plaaslike regering ondersoek die grondoorsake vir hierdie mislukkings in die verskillende watervoorsieningstelsels. Ons sal ondersteuning bied wat wissel van opleiding van prosesbeheerders, ondersteuning met infrastruktuurfinansie­ringsaansoeke, en tegniese bystand soos nodig.”

Die Wes-Kaap het 25 waterdiens­ower­hede, met 124 watervoorsieningstelsels, wat gemiddeld 1 162 422 kiloliter per dag behandel.

Die provinsie het beskikbare kapasiteit van 2 163 000 kiloliter per dag, volgens die verslag.

Bredell het gesê die Bloudruppelverslag vul die werk aan wat deur die provinsie gedoen is en ondersteun dit met sy 15-jaar- Wes-Kaapse geïntegreerde droogte- en waterreaksieplan, wat alle munisipale waterinfrastruktuur en beskikbare waterbronne in die provinsie ontleed het.

Die waterplan verskaf hulpmiddels vir munisipaliteite om hul toekomstige waterbehoeftes teen verskillende bevolkingsgroei- en ekonomiese groei- scenario’s te projekteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article