Inwoners van Drakenstein het geen rede tot kommer oor die beskikbaarheid van drinkwater tydens beurtkrag nie.Foto: Unsplash

Credit: SYSTEM

Terwyl sekere munisipaliteite planne beraam en versoeke aan inwoners rig om die watergebruik in hul areas tydens beurtkrag te verminder, het inwoners van Drakenstein geen rede tot kommer nie.

As gevolg van fase 6-beurtkrag is daar toenemende druk op verskeie munisipaliteite se pompstasies en gevolglik hul vermoë om drinkwater te verskaf.

Die Stad Kaapstad, Stellenbosch-munisipaliteit en ook die Breedevallei-munisipaliteit is van die munisipaliteite wat hul inwoners versoek het om water spaarsamig te gebruik, veral tydens beurtkrag, omdat hul pompstasies sukkel om tydens fase 6-beurtkrag die reservoirs vol water te hou en sodoende sukkel om water aan huishoudings te voorsien.

In Kaapstad word veral hoogliggende areas geraak en het dié stad Kaapstad-inwoners gewaarsku dat sekere areas lae of geen waterdruk tydens hoër fases van beurtkrag kan ervaar.

Marius Wüst, uitvoerende direkteur: ingenieursdienste van Drakenstein-munisipaliteit, het aan Paarl Post gesê dat Drakenstein nie hierdie risiko loop nie en inwoners gerus kan wees dat daar voldoende water is.

“Die meeste van ons reservoirs se waterpompstasies het kragopwekkers wat aanskakel wanneer Eskom beurtkrag toepas – dus is die risiko dat hulle sal leegloop minimaal. Die meerderheid van die reservoirs word eintlik deur gravitasie gevoed en word nie deur beurtkrag beïnvloed nie,” het Wüst gesê.

Hy het verduidelik dat die munisipaliteit ook hul waterreservoir- en pompstasie-netwerk deur ’n telemetriestelsel monitor, wat hulle in staat stel om enige moontlike probleme vroegtydig te identifiseer en in terme van watervoorsiening proaktief op te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article