Die Drakenstein-munisipale hof, wat sedert 2017 beplan word, het uiteindelik die groenlig gekry om sy deure te open.
Volgens die munisipaliteit het Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, onlangs die nodige goedkeuring vir die opening van die hof gegee.
Die munisipale hof, geleë by Bredastraat 62, Paarl, sal ’n afdeling van die landdroshof wees en op die hantering van munisipale sake soos die verbreking van bouregulasies, verkeersoortredings en oortredings van munisipale verordeninge fokus.
Die munisipale hof sal amptelik op 1 Augustus geopen word en sal beman word deur ’n landdros wat deur die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling aangestel word, tesame met ’n aanklaer en hofpersoneel wat deur die munisipaliteit aangestel word.
Volgens die munisipaliteit het die proklamering op 30 Maart vanjaar dit moontlik gemaak dat die munisipaliteit met finale voorbereidings kan begin om die hof te open.
Dr. Johan Leibbrandt, die Drakenstein-munisipaliteit se stadsbestuurder, sê: “Die nuwe hof sal die erns van verordeningsoortredings uitlig en die munisipaliteit bystaan om reg en orde in alle erns toe te pas. Lede van die publiek wat gewoonlik in die landdroshof weens verkeersverwante oortredings of ander munisipale aangeleenthede moet verskyn, sal van 1 Augustus af in die munisipale hof verskyn.
“Voorheen was daar beperkte ruimte vir munisipale sake op die hofrol, maar die munisipale hof sal toesien dat meer munisipale verordening-oortredings doeltreffend hanteer sal word,” het Leibbrandt gesê.
Conrad Poole, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, het die aankondiging verwelkom.
“Dit kom al ’n lang pad,” sê Poole, “en ek is bly dat ons uiteindelik die geriewe wat ons vir dié doel voorberei het, kan gebruik.”
Poole het gesê dit is die munisipaliteit se visie om die Drakenstein-munisipaliteit as ’n stad van uitnemendheid te laat groei en die munisipale hof sal help om hierdie doelwit te bereik. “Ek is trots op die personeel wat so hard gewerk het om die munisipale hof ’n werklikheid te maak, en ek wil alle inwoners aanraai om van dié hof gebruik te maak. Die hof sal die druk op die Paarl-landdroshof verlig, en is ’n waardevolle bate vir ons munisipaliteit.”
Die munisipale hof se bedryfsure sal van 08:00 tot 13:00 en 13:30 tot 15:45 van Maandae tot Donderdae wees. Vrydae sal die hof tussen 08:00 en 13:00 en weer van 13:30 tot 14:30 oop wees. Dit sal oor naweke en op openbare vakansiedae toe wees.
- Bel die munisipaliteit by die tolvrye nommer 0801 313 553 vir nog inligting oor die munisipale hof.





