Foto ter illustrasie. Foto: Argief


Die Drakenstein-munisipaliteit word tans voor die hof gedaag oor sy beleid om inwoners wie se munisipale rekeninge agterstallig is, van elektrisiteit te weerhou.

Dié beginsel is volgens die munisipaliteit wettig, maar Duncan Korabie, die prokureur wat die Drakenstein-inwoner verteenwoordig, sing ’n ander deuntjie.

Volgens hom sê die Wet op Verbruikersbeskerming, Wet 8 van 2008, dat dit onwettig is om elektrisiteit van mense te weerhou.

Die hofsaak het op 4 Maart in die Paarlse landdroshof voorgekom en is tot 16 April uitgestel.

Volgens Korabie is daar nog Drakenstein-inwoners wat gaan deel vorm van die hofsaak wat die aantal klaers tot meer as 20 sal opstoot.

Hulle sal die Drakenstein-munisipaliteit, die respondent, uitdaag om nie hul elektrisiteitseenhede met ’n sekere persentasie af te sny of as ’n geheel te weerhou nie, soos dit tans gedoen word.

Volgens Korabie het die munisipaliteit ’n verordening wat stipuleer dat hy van inwoners wie se munisipale rekeninge met ’n sekere bedrag agterstallig is, geld kan terugeis deur hulle te dwing om slegs deur die munisipaliteit of op hul bank-toep krag te koop.

Dit word so gedoen sodat die munisipaliteit tot 90% van die bedrag geld wat aan kragverkope gaan, kan neem om die agterstallige rekening af te betaal en die verbruiker slegs met 10% van hierdie bedrag se krag te laat.

Indien ’n inwoner dan R1 000 se krag koop, sal hy net met R100 se krag uitstap omdat die munisipaliteit tot 90% van daardie bedrag kan terughou.

Volgens Bradley Brown, die Drakenstein-munisipaliteit se finansiële hoof, is daar ’n “70%/30%-basis vir skuld ouer as 30 dae en ’n 90%/10%-basis vir skuld ouer as 60 dae”.

Korabie verduidelik dat die munisipaliteit in sommige gevalle 100% van die bedrag kan neem, wat die verbruiker heeltemal in die donker sal laat.

Volgens hom het een van sy kliënte ’n reeds agterstallige rekening by sy ma oorgeneem nadat sy gesterf het.

Vir die kliënt om hierdie rekening op haar eie naam oor te plaas om sodoende ’n titelakte vir die huis te kry, moet die agterstallige bedrag eers ten volle betaal word, al is dit nie sy wat oorspronklik die skuld gemaak het nie.

Dít volgens Korabie is dit ook onwettig volgens die Wet op Verbruikersbeskerming en iets waarmee sy kliënt reeds oor ’n aantal jare worstel.

Die munisipaliteit wil hê ons moet skik, want dan hoef hy net die respondente in die saak se krag aan te skakel, en nie ander [Drakenstein-inwoners] wat met dieselfde probleem sit nie.
Duncan Korabie

“Die munisipaliteit wil hê ons moet skik, want dan hoef hy net die respondente in die saak se krag aan te skakel, en nie ander [Drakenstein-inwoners] wat met dieselfde probleem sit nie.”

Dít is juis die rede waarom Korabie nie ’n skikkingsooreenkoms vir sy kliënte sal aangaan nie en wil veg dat die verordening geheel en al geskrap word.

Die korrekte prosedure vir die munisipaliteit om agterstallige geld in te win, is eerder om ’n dagvaarding uit te reik, volgens hom.

Brown verduidelik dat die munisipaliteit binne sy regte is om elektrisiteitseenhede te weerhou weens sy “raad-goedgekeurde kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid”, wat in Mei 2023 deur die munisipale bestuurder, Johan Leibbrandt, afgeteken is.

“Die [Drakenstein]-munisipaliteit kan elektrisiteit ontkoppel vir agterstallige skuld, met die verstandhouding dat redelike kennis aan die verbruiker gegee word dat die elektrisiteit ontkoppel sal word,” volgens Brown.

Die proses […] word nie as ongrondwetlik beskou nie, want die [Drakenstein]-munisipaliteit gee die verbruiker redelike kennis van die administratiewe stappe wat hy geneem het met die beperking van water en/of elektrisiteit, en/of die ontkoppel van elektrisiteit.
Bradley Brown

“Die proses […] word nie as ongrondwetlik beskou nie, want die [Drakenstein]-munisipaliteit gee die verbruiker redelike kennis van die administratiewe stappe wat hy geneem het met die beperking van water en/of elektrisiteit, en/of die ontkoppel van elektrisiteit.”

Brown het in e-pos-kommunikasie gesê die munisipaliteit kan nie oor die huidige hofsaak praat nie, omdat dit “sub judice” is en openbare bespreking dus verbied word.

’n Appèlhofuitspraak oor dié regsterme het egter bevind dat politici en staatsamptenare nie onder die vaandel van “sub judice” mag wegkruip nie.

Navrae is weer aan die munisipaliteit gerig oor die kwessie, maar geen terugvoering is ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article