Drakenstein-munisipaliteit appelleer teen Hooggeregshof beslissing oor noodbehuisinguitspraak

Drakenstein-munisipaliteit appelleer teen Hooggeregshof beslissing oor noodbehuisinguitspraak van plaaswerkers


Nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof einde Julie in die guns van ’n landelike werker beslis het in sy saak teen Drakenstein-munisipaliteit het die munisipaliteit besluit om teen die uitspraak te appelleer.

Paarl Post het voorheen berig Eric Lolo, wat saam met sy dogter en kleindogter op ’n plaas in Wellington gewoon het, is in 2015 ’n uitsettingsbevel gegee toe hy van die plaas waar hy gewerk het, ontslaan is.

Lolo het namens homself en ander wat in landelike gebiede woon, by die hooggeregshof aansoek gedoen in die hoop om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir die voorsiening van noodbehuising.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het bevind dat die Drakenstein-munisipaliteit sy grondwetlike plig versuim het om noodbehuising aan mense te voorsien wat van plase afgesit word.

Die regter het ook bevind dat die munisipaliteit nie die “feitlike basis” verskaf het vir ’n eis dat hy nie geld het om sy verpligtinge na te kom nie. In die uitspraak word genoem dat die munisipaliteit in 2016 slegs R1 miljoen vir noodbehuising begroot het uit ’n totale begroting van meer as R2 miljard.

Die munisipaliteit is ook deur die hof gesê om voorsiening vir noodbehuising te maak en terug te rapporteer aan die hof. Die regter het ook gesê die hof moet toesig hou oor die implementering van die bevel en dat die munisipaliteit verslae oor die vordering daarvan moet indien.

Volgens Seraj Johaar, uitvoerende direkteur: korporatiewe dienste by die munisipaliteit, het die munisipaliteit gronde om te appelleer en hy sê hul appèl berus op onder meer:

1. Dat die hof versuim het om bewyse van sy finansiële posisie te oorweeg en die “vordering wat hy gemaak het met behuising in die algemeen, en noodbehuising in die besonder”.

2. Die hof het bewyse van sy noodbehuisingspogings geïgnoreer, met kennis van verskeie van sy behuisingsprogramme, soos die Vlakkeland-behuisingsontwikkeling, die Schoongezicht-perseel in die Paarl, en ander behuisingsontwikkelings.

3. Die hof het versuim om te oorweeg dat Lolo alternatiewe akkommodasie aangebied is, maar hierdie aanbiedinge verwerp het, en dat sy redes waarom hy nie die aanbod aanvaar het nie, volgens die munisipaliteit ongeregverdig (of ongegrond) was.

4. Die hof het versuim om die feit in ag te neem dat die munisipaliteit se behuisingsbeleid wel vir self-finansiering voorsiening maak, en die munisipaliteit het self-finansieringsprojekte by Nieuwenhoop, New Beginnings en Dietmanstraat, Wellington en die Palmiet-omgewing.

5. Die hof het versuim om die feit in ag te neem dat die munisipaliteit se landelike behuisingskwota in werklikheid die ruimste is.

Volgens Johaar oormerk die munisipaliteit 20% van alle nuwe (behuisings-) geleenthede vir landelike bewoners, terwyl omliggende munisipaliteite slegs 10%, 5% of geen kwota het vir landelike bewoners nie.

Die munisipaliteit het ook voorheen aan Paarl Post gesê Lolo kwalifiseer vir behuisingsbystand ingevolge hierdie landelike kwota, maar ten spyte daarvan dat hy genooi is, het hy homself nooit op die munisipaliteit se databank laat registreer nie.

Volgens die munisipaliteit verskaf hulle altyd noodverblyf wanneer nodig, maar noodbehuising is ’n direkte versuim deur die nasionale regering om voldoende daarvoor te beplan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article