Die Drakenstein-munisipaliteit het vanjaar reeds R41 miljoen se oninbare skuld afgeskryf.


As deel van Drakenstein-munisipaliteit se beleid van afskrywing van oninbare skuld, het die munisipaliteit teen 30 April vanjaar R41 miljoen afgeskryf.

Dié skuld word hoofsaaklik toegeskryf aan inwoners wat agterstallig is met die betaling van hul maandelikse munisipale rekening.

Maar volgens Bradley Brown, die finansiële hoof van Drakenstein-munisipaliteit, word skuld slegs in uitsonderlike gevalle, wat met verskeie prosesse gepaard gaan, afgeskryf.

Die Stad Kaapstad het verlede week op sy beurt aangekondig dat inwoners in sy munisipale gebied met skuld van ouer as 1 Julie 2018 aansoek kan doen om dit te laat afskryf.

Sekere kriteria word gevolg en daar is ook voorwaardes aan verbonde.

Brown verduidelik dat Drakenstein se beleid jaarliks hersien word.

Hy sê dat daar so verseker word dat die munisipaliteit nie skuldafskrywing as ’n spesiale projek hanteer, soos die Stad Kaapstad nie.

“Die beleid bepaal al die voorwaardes vir skuldafskrywing asook die betrokke delegasies, byvoorbeeld wie sekere bedrae skuld mag afskryf, en so meer.

“Die beleid spesifiseer dat skuldafskrywing net een keer vir enige rekeninghouer vir ’n spesifieke rekening afgeskryf mag word, maar spesifiseer nie soos in Stad Kaapstad se geval dat dit weer terug op die rekeninghouer se rekening geplaas gaan word, sou die rekening weer agterstallig raak nie.”

Hy verduidelik dat die munisipaliteit wel ingevolge rekeningkundige standaarde voorsiening maak vir skuld wat moontlik nie ingevorder gaan word nie, gebaseer op ’n vooruitskatting wat historiese data insluit.

“Vir hierdie rede moet daar in die begroting voorsiening vir oninbare skuld gemaak word.

“Die munisipaliteit doen elke jaar sy bes om uitstaande skulde in te vorder en dit is slegs in uitsonderlike gevalle, wat met verskeie prosesse saamgaan, dat skulde wel afgeskryf word.

“Die nadeel van skuldafskrywing is dat die munisipaliteit inkomste verbeur wat nodig is vir dienslewering.”

Hy moedig inwoners wat sukkel om hul rekeninge te vereffen aan om reëlings by enige munisipale betaalkantoor te tref om hul rekeninge binne sekere beleidsvoorwaardes te vereffen.

“Alle voorwaardes vir die tref van betalingsreëlings is vervat in die munisipaliteit se kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid.

“Dit is op die munisipaliteit se webtuiste beskikbaar.

“Die munisipaliteit bied ook ’n deernisprogram ingevolge ons deernisbeleid aan wat ook jaarliks met die begrotingsproses hersien word. Ingevolge hierdie beleid kan kwalifiserende inwoners by enige munisipale betaalkantoor, dwarsdeur die jaar, aansoek doen om ’n deernis-subsidie.

Vir meer besonderhede oor die verskeie beleide, besoek www.drakenstein.gov.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article