Altesaam 150 uitsettingsake moet deur howe in die Drakenstein- munisipale gebied aangehoor word, maar die munisipaliteit het geen beheer oor uitsettingsbevele nie en is sterk teen uitsettings gekant.
So sê die uitvoerende direkteur van beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by die Drakenstein-munisipaliteit, Jacqui Samson.
Dit volg ná die Women on Farms-projek (WFP) se vreedsame optog wat op 26 April deur minstens 200 vroue en plaaswerkers voor die Paarl-landdroshof bygewoon is.
Paarl Post het verlede week verslag gedoen oor ’n memorandum wat die WFP tydens die optog aan verteenwoordigers van die munisipaliteit en hof oorhandig het. Daarin eis die vroue onder meer dat plaasuitsettings uit ’n menseregte-oogpunt hanteer word en dat die beleid op grondonteiening en -herverdeling meer daadwerklik toegepas word.
In reaksie het Samson gesê die prosesse waarvolgens die howe uitsettings gelas, is buite die Drakenstein-munisipaliteit se beheer.
“Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling sal meer hieroor kan uitbrei. Die Drakenstein-munisipaliteit inisieer nie uitsettings nie en is, inteendeel, sterk daarteen gekant.”
Sy het ook gesê: “Die Drakenstein-munisipaliteit word in hierdie aangeleenthede saam met die mense wat moontlik uitgesit gaan word deur die howe as ’n respondent gedaag.
“Dit is gegrond op die feit dat, indien ’n uitsetting gelas word en die mense nie alternatiewe behuising kan bekom nie, die onus op die munisipaliteit rus om dit te voorsien.”
Sy waarborg dat die munisipaliteit tot dusver aan alle hofbevele voldoen het waarin die munisipaliteit gelas is om alternatiewe behuising te voorsien. Dit is ook gedoen ingevolge die munisipaliteit se beleid oor alternatiewe behuising aan mense wat uitgesit is.
Samson gee die versekering dat hierdie beleid deur die raad goedgekeur is, maar voeg by dat die begroting altyd ’n uitdaging sal wees “aangesien die munisipaliteit in hierdie geval geen geld van die provinsiale of nasionale regering ontvang nie”.
Sy sê die munisipaliteit maak op sy eie finansies staat en “hanteer alle gevalle met die nodige omsigtigheid en sensitiwiteit”.
- The Drakenstein Municipality reacted to some of the demands made by Women on Farms Project during a protest at the Paarl Magistrates’ Court on April 26. They said although they condemn farm evictions, they have a limited budget that cannot accommodate all those affected by such court rulings.




