DM roep ‘dringende sitting’ ná wanorde bewerings teen nóg ’n senior amptenaar

Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit.Foto: Gallo Images


Paarl Post het by ’n betroubare bron verneem dat die Drakenstein-munisipale raad ’n dringende geslote vergadering vir Donderdag (30 November) geroep het waartydens die uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, wie nog in die proses is om homself van korrupsie bewerings skoon te spreek, die raad sal toespreek te midde van “ernstige” wanorde bewerings teen nóg ’n senior amptenaar binne die stad.

Die senior amptenaar, met wie Paarl Post bekend is, word na bewering van onder meer magsmisbruik, afpersing en rassisme beskuldig.

Paarl Post verstaan dat die hoofswepe van verskeie opposisiepartye aan die uitvoerende burgemeester se deur gaan klop het, te midde van dié bewerings.

Dit is die tweede senior amptenaar wat nou onder die vergrootglas geplaas word, met die ondersoek teen Poole wat skaars afgehandel is.

Poole is vroeër vanjaar deur ’n opposisieparty in die munisipaliteit daarvan beskuldig dat hy ’n “betaal-vir-werk”-skema onder sy burgemeesterskomitee gehardloop het.

Die bewerings is na die Speaker se kantoor verwys waarna ’n onafhanklike regsfirma aangestel is om Poole te ondersoek.

Paarl Post het vroeër berig dat dié firma toe wel “prima-facie bewyse” gevind het wat daarop kan dui dat Poole moontlik sekere gedragskodes vir raadslede oortree het.

Die raad het op 27 Oktober se raadsvergadering eenparig besluit dat ’n interne dissiplinêre komitee gestig moet word om die firma se bevindinge na te gaan.

Koos le Roux, die Speaker, kon nie Woensdag by navraag aan Paarl Post sê of hierdie komitee wel al gestig is en of Poole enige verskynings tot op hede gemaak het nie.

Intussen het Andre Fourie, ’n VF Plus-raadslid sy misnoeë uitgespreek oor die Speaker se besluit om die ondersoek rondom Poole slegs agter geslote deure te bespreek.

Lede van die publiek sowel as die media is by twee vorige raadsvergaderings gevra om te verdaag aangesien die besprekings rondom die bewerings teen Poole op die vertroulike agenda geplaas is.

Fourie het op Vrydag (24 November) se raadsvergadering met die Speaker meegedeel dat in die lig van sy bekendmaking in die openbare domein van die verloop van sake, die item beswaarlik langer op die vertroulike agenda hoort.

*Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Hou Paarl Post dop vir meer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article