Die brief in die Paarl Post van 8 Junie – “Hoër tariewe tref swaar” – verwys.

Raadslid Fourie is verkeerd. Die “City of Excellence” het inderdaad “excel”! Die Drakenstein-munisipaliteit is pas deur die gesaghebbende ouditeur-generaal van Suid-Afrika as die beste sekondêre stad in die land aangewys, en verlede maand deur die Wes-Kaapse premier as die provinsie se beste sekondêre stad vir uitnemende dienslewering.

Die raadslid ignoreer hierdie feite doelbewus en verkies om net die peiling van “Ratings Afrika”, ’n nie-amptelike organisasie sonder enige locus standi, uit te lig. Hy verkies ook om te ignoreer dat álle politieke partye verlede maand ten gunste van die 2023-’24-begroting gestem het. Waarom? Dis ’n baie goeie en gebalanseerde begroting, waaroor Paarl Post ewewigtig verslag gedoen het – iets wat die munisipaliteit verwelkom.

Slegs die Vryheidsfront Plus kon nie die lig sien nie.

Om te beweer dat 40% van die gemeenskap betaal vir “60% wat geen bydrae maak nie” is onverantwoordelik en ’n blatante leuen. Miskien verstaan die raadslid nie plaaslike regering se begrotingsprosesse nie? Die munisipaliteit betaal deernisvoordele uit nasionale regeringtoekennings (“equitable share”) – nie uit eie koffers nie.

Wat tariefverhogings betref, het ek nuus vir Fourie: die héle Suid-Afrika gaan hierdeur getref word! Pleks daarvan om te murmureer, behoort hy erkenning te gee aan die Drakenstein, wat ’n elektrisiteitstariefverhoging van 15,1% deurgee (onthou Eskom se grootmaattarief het met 18,1% gestyg), terwyl die meeste ander munisipaliteite hul elektrisiteitstariewe met ongeveer 18% gaan verhoog.

Hy vergeet ook geriefshalwe om te noem dat die Drakenstein twee jaar gelede eiendomsbelasting met 2% verlaag het, en die daaropvolgende jaar ’n zero-verhoging toegepas het.

Ons vullisverwyderingstariewe is dalk hoër, maar weer eens mislei Fourie die lesers. Wanneer munisipale rekeninge vergelyk word, moet die hele mandjie dienste vergelyk word, en dis al oor en oor bewys dat die Drakenstein billik is en waarde vir geld bied; ook dat ons verreweg van die laagste watertariewe hef. Die raadslid se klap na amptenare se salaris is ’n lae hou, en hy klap mis. ’n Nasionale bedingingsraad stel salarisverhogings vas – nie die Drakenstein self nie. Alle amptenare kry ook nie 7,8% verhoging nie – slegs dié wat nie op hul topkerf is nie.

Laastens verkies hy om goedkoop politiek van die Kwêla- Dorp van die Jaar-kompetisie te maak, pleks daarvan om die Paarl en sy wonderlike mense geluk te wens met die benoeming.

Ons is trots op die Paarl, en wens Bonnievale alle sterkte as Wes-Kaapse finalis toe.


Raadsheer Gert Combrink,

Adjunk- uitvoerende burgemeester, en burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir finansies, Drakenstein-munisipaliteit,

PAARL

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article