’n Inwoner van die Vlakkeland-informele nedersetting het in Februarie ’n klagte van menseregteskending by die Mbekweni-polisie aangemeld.
Daleel Benjamin sê hy is deur die huidige omstandighede wat in sy gemeenskap heers gedryf en voel hul basiese menseregte, soos watervoorsiening en sanitêre geriewe, word deur die Drakenstein-munisipaliteit (DM) geskend.
“Die DM toon al vir jare geen betrokkenheid nie. Ja, hulle het oor die jare huise gebou, drie mobiele toilette en ’n 5 000F-watertenk geïnstalleer. Maar sedert die begin van die covid-pandemie word die geriewe en dienste afgeskeep,” kla Benjamin.
Hy sê die DM het wel die toilette twee keer per week gediens en leeggemaak, maar genoeg water vir sanitasie word nie meer verskaf nie.
“Ons mense en kinders voel vuil en moet ongewas werk toe of skool toe gaan. Ons het egter in ’n mate watervoorsiening, wat deur ’n veiligheidsmaatskappy aangery en uitgedeel word. Maar selfs dié beamptes boelie die mense en hulle kies wie kry water en wie nie.”
Hy het bygevoeg dat die omstandighede daartoe bydra dat mense in misdadigers ontaard weens die gebrek aan basiese geriewe en hul menseregte.
Gerald Esau, die DM se uitvoerende direkteur van gemeenskapdienste, het aan Paarl Post bevestig dat van die geriewe wel deur die munisipaliteit voorsien is.
“Die Drakenstein-munisipaliteit het destyds ’n watertenk aangebring, maar ons verstaan dit is deur van die inwoners gevandaliseer en weggedra.”
Esau het ook die voorsiening van die mobiele toilette deur die DM bevestig, en het bygevoeg dat dié geriewe drie maal per week gediens word.
- Die volgende vrae is in hierdie verband gerig:
Die DM antwoord: “Hierdie gesinne is sonder ’n wettige hofbevel deur een van die naasliggende boere by Vlakkeland geplaas. Hoewel die munisipaliteit geen wetlike verpligting teenoor die gesinne het nie, het ons om humanitêre redes die JoJo-tenk vir hulle aangebring,” het Esau geantwoord.
Hy dra geen kennis van ’n menseregteskending-klagte wat by die polisie aangemeld is nie.
AO Nceba Vanqa, ’n woordvoerder van die Mbekweni-polisie, dra ook geen kennis van so ’n klagte nie.
Die behuisingskrisis wat nasionaal heers, is ook ’n kommerwekkende kwessie en ’n gereelde verskynsel in die Drakenstein-vallei.
Tussen die Wes-Kaapse departement van maatskaplike dienste, die Drakenstein-munisipaliteit, onwettige grondbesetting en die agterstand van die behuisingskema om wonings aan agtergeblewenes te voorsien, lyk die situasie maar bleek.
Wat nog te maak wanneer gemeenskappe na bewering voorsiende hulpbronne soos die DM se watertenk vandaliseer en sodoende enige watervoorsiening vertraag?
Dit bly nietemin die plig van die munisipaliteit om die menseregte van al sy inwoners te handhaaf, nes dit ’n gemeenskap se verantwoordelikheid is om hulpbronne wat verskaf word, te beskerm teen ’n minderheid wat dit vandaliseer en hul noodlot saboteer.




