Drakenstein-munisipaliteit veroordeel die plundering, vernietiging van eiendom en geweld wat tans in Suid-Afrika plaasvind.
Die munisipaliteit doen ‘n beroep op alle inwoners om kalm te bly. Tot op hede was daar nog geen soortgelyke voorvalle in die Drakenstein-munisipaliteit nie. Hierdie kriminele dade sal nie geduld word nie het die munisipaliteit laat weet.
Baie individue, besighede en gesinne sukkel steeds met die finansiële gevolge van die Covid-19-pandemie. Verdere verlies aan lewensonderhoud en werk sal vernietigend wees.
“Ek stem volkome saam met die stelling van die politieke partye in Drakenstein om plundering en / of geweld in ons munisipale gebied te veroordeel. Ons sal alles in ons vermoë doen om ons inwoners en besighede veilig te hou. Ons bid dat diegene wat verantwoordelik is vir hierdie anargie tot hul sinne sal kom en dat die vrede binnekort herstel sal word,” sê Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit.
In ‘n poging om probreerslae van vernietiging of plundery van eiendomme te versag, is die Drakenstein Smart Safety Network (DSSN) op hoë gereedheidsgebied vanaf Maandag 12 Julie in plek gestel. Die DSSN bestaan uit munisipale wetstoepassing, die brandweer, die Suid-Afrikaanse polisiediens, plaas- en buurtwagte, en private sekuriteitsfirmas.
Die munisipaliteit het ook sy rampbestuursvoorsieningsplan geaktiveer om te voorkom dat openbare wanorde in Drakenstein se sentrale sakegebiede, winkelsentrums, spazawinkels en hoofweë plaasvind. Sigbare patrollies word in bogenoemde gebiede ontplooi en maatreëls is getref om te verseker dat diensleweringsinfrastruktuur en bates (water, sanitasie, elektrisiteit, ens.) beveilig word, sodat dienste soos gewoonlik kan voortgaan. Verskeie aktiwiteite in samewerking met die sakesektor en mediese sorgsentrums het ook plaasgevind om, indien nodig, ondersteuning te verleen.
Die munisipaliteit het diensvlakooreenkomste met naburige munisipaliteite in plek om, indien nodig, die pogings om die Drakenstein-munisipale gebied veilig te hou, te koördineer.
Inwoners word versoek om enige kriminele aktiwiteite onmiddelik by die polisie aan te meld by 08600 10111 of tolvry aan die munisipaliteit by 080 131 3553. Drakenstein-munisipaliteit werk saam met die polisie en ander sekuriteitsvennote en ondersteun hul pogings om die risikos van openbare onrus en misdadigheid te verminder.




