As jy lus is vir ’n behoorlike kuier in die wynlande, sit onmiddellik 6 April opsy.
Oesfees op die geskiedkundige wynlandgoed Solms-Delta is terug ná ’n paar jaar van winterslaap, en soos voorheen is jy gewaarborg van musiek wat jou op jou voete sal kry!
Oesfees is egter meer as net lekker musiek – die massas trosse druiwe uit priële en die landgoed vier dan sommer op dié dag die einde van die oes en sê ook “dankie” vir die hande wat so hard gewerk het om die oes betyds in te bring – en dit terwyl Spoegwolf, manne soos Loukmaan Adams, Anton Goosen, Oom Hannes Coetzee, Schalk Joubert én van die lekker local bands die Franschhoek-vallei sal laat weergalm.
“Ons tree op crazy plekke op, maar min so mooi soos Solms-Delta. Oesfees is vir ons ’n hoogtepunt, want buiten die vineyard vibes vier ons die einde van die oes saam met die gemeenskap – en dit in ’n intieme venue teen ’n backdrop wat jou vir ’n paar ure van jou sorge sal laat vergeet. Dit kan mos nie beter nie!” sê Danie Reënwolf du Toit, die hoofsanger van Spoegwolf.
Die Oesfees-kunstenaars is Spoegwolf, Anton Goosen, Loukmaan Adams, My Cape Town, Frazer Barry, Oom Hannes Coetzee, The Hanepoot Brass Band, Nick Turner, Schalk Joubert, The Solms Delta Optelband, Agri-Got-Talent Winners, Soetstemme en Papier Family.
Nou maar toe – trek gemaklik aan, bring ’n kombers en skakel die kinders se skerms af. Jonges onder 12 onder die toesig van hul ouers kan gratis kom kuier. Vir die res gaan R200 gewaarborgde plesier gee (en onthou, daar is eg-Bolandse lekkernye en drinkgoed te koop).
Die hekke open om 10:00.. Kaartjies is aanlyn te koop by Plankton.mobi (https://plnktn.io/Oesfees)



