Die span van Paarl KK, wat verlede Saterdag die Victoriane op Coetzenburg geklop het. Agter van links: Manfred de Kock (afrigter), Brendan Coetzee, Waylain September, Ultallyn Erntzen (bestuurder), Taigh Schoor, Akeem Minnaar en Jaywin Solomons. Voor is Adrian du Toit (kaptein), JJ van der Sandt, Liam Muller, Henrico Albertus, Taywin Adams en Lindley Hendricks.Foto:

Credit: SYSTEM

Die Paarl-krieketklub het wel verlede Saterdag in Boland Krieket se Premierliga- kompetisie teen die ligavoorlopers, Vredenburg-Saldanha, vasgeval, maar het Sondag vergoed met ’n skitterende oorwinning op Coetzenburg teen die Victoriane.

Dit plaas Paarl in die vierde posisie op die punteleer – vier punte agter Van der Stel, teen wie hy eerskomende Saterdag op die Parys-veld te staan kom.

In Vredenburg kon die Paarliete slegs 122 teen die akkurate boulwerk van Devon Smith (9.5-2-24-3), Neil Lochner (7-1-9-2) en Imraan Manack (10-2-18-2) bymekaarskraap. Adrian du Toit (34, 1×4, 2×6) het die beste met die kolf gevaar. Nathan Engelbrecht (40,4×4) het hierna die bul by die horings gepak om toe te sien dat die tuisspan met sewe paaltjies wen. Du Toit (8-3-20-2) het weer met die bal beïndruk.

In Stellenbosch het Paarl een van sy beste oorwinnings in die Premierliga behaal toe hy met ses paaltjies teen Victoriane gewen het. Rian Paleker (85, 6×4, 2×6) was die doring in hul vlees. Goeie bystand van Kent Goedeke (42) en Ross Boast (32) het gehelp dat die studente 232 haal, maar hulle is goed in toom gehou deur Paarl se 18-jarige draaier, Henrico Albertus (10-1-43-4). Taigh Schoor (10-1-43-2) en Du Toit (10-0-50-2) het die res van die skade aangerig.

Ná die verlies van sy aanvangskolwers het Lindley Hendricks (101 n.u.n., 8×4, 3×6) sy beste kolfvertoning vir Paarl gelewer. Sy derdepaaltjievennootskap van 161 lopies saam met sy kaptein, Adrian du Toit (63,3×4, 2×6), was deurslaggewend in die besoekers se aanslag. Ná Du Toit se vertrek het die 18- jarige JJ van der Sandt (28 in 17 balle) kom skouers oopmaak en sy drie sesse het die studente Coetzenburg se heuwels laat klim. Vir die Victoriane het Ethan Cunningham (10-2-42-2) die beste met die bal gevaar.

Paarl II het verlede naweek hard geveg, maar in albei wedstryde die onderspit gedelf.

Saterdag het hulle op die Parys-veld met 50 lopies teen Vredenburg-Saldanha verloor ten spyte van ’n hardnekkige 54 van die veteraan Lynal Jansen. Sondag het Thorston Morkel met 80 lopies op die Pen Basson-veld beïndruk, maar Wellington het met een paaltjie gewen.

Paarl II reis Saterdag na Stellenbosch vir sy wedstryd teen Van der Stel II.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article