Van links is die vlekmanne Leon van Rooyen, Zidené Jacobs en Farrell Dowé saam met Sharon Jacobs (naasregs), met van die vars blinklywe wat Maandag van Lambertsbaai af in die Paarl aangekom het – net betyds vir die Paasnaweek. Foto: Lise Beyers


Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?

Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur

en kalm soos min dinge hier benee,

maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur


Maar word dié bries ’n bulderende wind,

dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,

waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?

Die Dood staan voor die deur.

Geen hy nog net één tree, dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Wat van die storms wat nooit ophou raas?

Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,

en hoor die wind al woester, wreder blaas.

En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur

Uys Krige

Tradisioneel is snoek om verskeie redes ’n gesogte gereg oor Paastyd, veral vir die lekkerte van kerrievis. En pas, op die vooraand van die Paasfees, het die snoek aan die Weskus begin loop.

Maar jy gaan moet betaal vir hierdie blinklywe. Vandeesweek is snoek by vissmouse in Paarl-Oos vir tussen R180 en R200 verkwansel.

Op verskeie sosialemediaplatforms het verbruikers vandeesweek gekla dat handelaars tans tot R300 vir ’n snoek wil hê.

“Dis belaglik,” sê ’n bekende Paarl-snoeksmous van Woelwater-snoek.

Sharon het vandeesweek breed geglimlag by hul stalletjie in Jan van Riebeeckrylaan oorkant New Orleans.

“Geen mens behoort soveel vir ’n snoek te moet betaal nie.”

Sy het wel bygevoeg dat die snoek nou net eers begin loop het.

“Die publiek moet in ag neem dat almal met Paastyd vis wil koop en ons kan byna nie byhou nie. Die aanvraag teenoor beskikbaarheid oorheers mekaar.”

Sharon voeg ook by dat die hemelhoë petrolprys ook die prys belemmer, want onthou, nie net moet die snoek na die Drakenstein-vallei aangery word nie, maar die bote vreet ook brandstof.

Dan is daar die salarisse vir die visvlekkers en dies meer – alles nog voordat die handelaar ’n sent in sy sak gesit het.

Maar, se Sharon, sy sien uit na die komende seisoen. “Onthou, die beste snoek kom nog – dis die maande sonder ’n ‘R’ wanneer hy op sy mooiste loop.”

Dis wanneer kopers hoop dat die prys wel ’n bietjie sal daal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article