Hierdie maand vier ons Vrouemaand en elke jaar in Augustus word die kollig op verskillende maniere op vroue geskyn – die rol wat hulle vervul, die feit dat vroue se regte nie geskend moet word nie en dat hulle vereer moet word vir alles wat hulle beteken.

Oor die jare het die vrou waarlik haar plek in die samelewing ingeneem, hetsy in die werksplek, op die sportveld of by die huis. Vroue staan sterk en werk hard vir dit waarvoor hulle lief is en dit waarin hulle glo.

Ons kan egter nie die feit miskyk dat ongelykhede steeds in die samelewing bestaan wanneer dit by die skoner geslag kom nie. President Cyril Ramaphosa het juis op Vrouedag sy ontevredenheid uitgespreek oor die feit dat sekere vroue steeds by hul werkplek minder vergoeding kry as mans vir dieselfde werk wat gedoen word. Ramaphosa het ook vroeër gesê dit is onregverdig en ook ’n skending van vroueregte dat ons nasionale sokkerspan nie dieselfde vergoed word as die mans-span nie.

Dan is daar ook die hartseer werklikheid dat vroue steeds mishandel word en swaar laste dra. Hulle bly dikwels stil daaroor – nie net om hulself van verdere mishandeling te beskerm nie, maar ook hul geliefdes. Dalk moet daar gekyk word na ’n hulpfonds wat vroue, wat uit ’n mishandelde lewe wil wegbreek, kan help om finansieel op hul eie voete te kan staan?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article