Ek wil amper amen sê op J. Adams van Paarl se brief van 27 Januarie se Paarl Post: ‘Hart is stukkend oor dorp’
Ons pragtige Paarl is in chaos gedompel. Niks werk meer normaal hier nie.
Vroeër jare het die munisipaliteit die onkruid op sypaadjies met gif bespuit. Daar het gereeld ’n trekker met ’n wa gery om sypaadjies skoon te hou. Nou staan onkruid kniehoogte op sypaadjies.
Somtyds sien jy ’n paar vroue wat afgelaai word om eenkant van Hoofstraat of Boulevard skoon te maak en vullis in swartsakke te plaas – net daar; ook nie die hele plek nie!
Dit lyk asof elkeen ’n afgebakende deeltjie het om skoon te maak, en as sy klaar is, gaan sit hulle en wag vir wie ook al hulle kom oplaai.
Maar wat van die ander kant van die pad?
Sies, dis nou ’n morsige spulletjie!




