Die span van Woelige Vis is, van links, Vanessa Arendse, Juliana Scheepers, Sharon Jacobs, Elaine Scheepers en Charlton Muller. Agter staan Micole Stuart.Foto: Chantélle Hartebeest


Paasfees is om die draai en die vis loop in die vallei!

Sharon Jacobs, een van die eienaars van Woelige Vis in die Paarl, sê sy en haar man, Michael Jacobs, verkoop al vir meer as ’n dekade vis hier in die Paarl. Dié tyd van die jaar is die vraag na vis baie groot, en is die span van Woelige Vis van soggens vroeg tot saans laat besig sodat hulle net kwaliteit-vis aan inwoners kan verskaf.

“My man gaan haal self die snoek by die hawe. Hy vang dit nou nie self nie, maar hy gaan laai net sy eie vis.”

Volgens Jacobs is die pryse van die vis wat hulle by die hawe koop nie elke dag dieselfde nie. Elke dag kom Michael en ander visverkopers saam met diegene wat die vis vang by die hawe bymekaar en dan bie hulle op die vis.

“Die pryse van die vis wissel elke dag. As hulle kom by die hawe, dan bie die mense op die vis en dan hang dit af van die vissermanne vir watter prys hulle die vis aan die visverkopers gaan verkoop.”

Jacobs meen hulle is ’n bekende gesig wanneer dit kom by vis verkoop en hulle stalletjie staan nog steeds op dieselfde plek in Jan van Riebeeck-rylaan, waar dit nog al die tyd was.

“Ons verkoop regdeur die jaar vis. Wanneer mense vis wil hê en die stalletjie is nie daar nie, sal hulle my kontak, en sodra ons vis inkry, dan sal ons afspreek om te ontmoet by die punt waar ons verkope doen. Daar is ook mense wat tot by my huis kom om vis te koop.”

Jacobs sê mense kom van ver af om van haar vis te koop en nie net plaaslike inwoners koop by haar nie.

“Die mense kom van ver af. My vis was al oorsee ook al. Hier was so twee weke terug mense van die Noord-Kaap ook. ’n Man en sy aanstaande was onlangs ook hier en sy is van Kanada en hy het vir haar kom wys hoe vlek ons die vis en hoe gaan ons te werk met die vis. En toe koop hulle ook sommer vir hulle vis. My vis travel oral en my kliënte is hoogs tevrede met my diens en kwaliteit van my produk.”

Jacobs en haar hele gesin, insluitend die paartjie se kinders, werk saam tot Woelige Vis se sukses.

“Vis het nie eintlik tyd nie. Wanneer ons werk, dan werk ons. Hierdie tyd van die jaar is ons gewoonlik baie besig en almal soek vis.”

Jacobs sê die sleutel tot hul sukses is hul netheid en hoe hulle met die vis te werk gaan, wat baie hoog geag word. Sy meen dit is nie net die vis waarna die kliënte kyk nie, maar ook hoe skoon alles is.

“Ons probeer elke dag om die beste kwaliteit oor te dra aan ons kliënte, en as hulle gelukkig is, is ons gelukkig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article