Drakenstein se uitvoerende direkteur van beplanning en ontwikkeling, Jacqui Samson, se dienskontrak met die munisipaliteit is Vrydag (31 Maart) ingevolge munisipale regulasies vroeër beëindig.

Volgens Drakenstein-munisipaliteit (DM) se uitvoerende direkteur van korporatiewe dienste, Seraj Johaar, is Samson nie versoek om haar pos te ontruim nie.

Maar, sê Johaar, Samson se dienskontrak is vroeër beëindig ingevolge die Munisipale Regulasies oor Minimum Bevoegdheidsvlakke (2007), gepubliseer onder Goewermentskennisgewing R.493 van 15 Junie 2007.

“[As deel van haar dienskontrak] moes sy binne 18 maande die minimum voorgeskrewe bevoegdheidsvereistes bereik.”

Volgens betroubare inligting soos deur die Paarl Post ontvang, was Samson veronderstel om ingevolge munisipale regulasie opleiding, wat deur die munisipaliteit verskaf is, te ontvang en verwante studies daarin te voltooi.

Die betroubare inligting dui daarop dat ’n vorderingsverslag van die opleiding, soos deur Samson onderneem, duidelik bevestig dat sy teen die sperdatum op 31 Desember 2022 nie alle vereiste standaardeenhede, soos in haar kontrak gestipuleer, voltooi het nie.

Dit het uiteraard, soos deur Johaar bevestig, veroorsaak dat Samson se kontrak outomaties beëindig is.

“Die vereiste is nie nagekom nie en haar laaste dag van werk was 31 Maart 2023,” aldus Johaar.

Intussen is David Delaney as Drakenstein se waarnemende uitvoerende direkteur van beplanning en ontwikkeling aangewys.

Volgens ’n vroeëre inskrywing op die Drakenstein-munisipaliteit se Facebook-blad is Samson amptelik op 2 Julie 2021 as die direkteur van beplanning en ontwikkeling bekend gestel.

Voor sy die amp beklee het, was Samson die voormalige hoof van die departement van menslike nedersettings by die Wes-Kaapse regering.

Paarl Post het vir Samson genader vir kommentaar, maar Samson het gesê dat sy geen kommentaar oor die aangeleentheid gaan lewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article