Die toenemende sinnelose moorde op jongmense in ons gemeenskap behoort ’n groot bekommernis te wees vir al die inwoners van die dorp. Waar gaan dit eindig en hoeveel families moet nog deur die tragedies gaan voordat ons – ja, ons – iets aan hierdie probleem doen?
Ons moet almal diep dink hoe ons dié probleem gaan aanpak. Wat is die oplossing en hoe gaan ons te werk?
Ons pak altyd die skuld op dwelms en drank, en moet my nie verkeerd verstaan nie – dit ís ’n enorme probleem, maar daar is nog ’n probleem. Dit is die feit dat ons soms te vinnig reageer op ons emosies soos jaloesie en woede.
Die maklikste manier om die probleem by die kern aan te pak is in ons eie wonings. Vir diegene wat gelowig is, sê die Woord mos duidelik: “wees stadig om kwaad te word”. In een oomblik van woede en onbeheerste emosies kan jou hele toekoms verander. Jy verwoes nie net iemand anders se lewe nie, maar ook jou eie. Weet net dit: maak nie saak watter “kwaai” outjie of meisie jy op straat is nie – ’n mens se gewete is ’n swaar las om mee saam te leef. So, voordat jy uit woede reageer, dink hoe jy jou eie lewe kan verwoes.



