Voëlvleidam naby Gouda is tans net 39,2% vol.Foto: Samuel Walters


Die Wes-Kaap se munisipaliteite en inwoners word aangeraai om vroegtydig water te bespaar.

Dit in die lig daarvan dat die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak die afgelope week tot net bo 50% gedaal het, met warm weer wat die afgelope week voortgeduur het.

Teen Maandag het die gemiddelde vlak van 51,3% tot 50,4% afgeneem, terwyl dit 55,8% in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was.

Dit was die beroep wat Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Maandag gedoen het toe hy by die Stellenbosch-belastingbetalersvereniging gepraat het.

Bredell, wat op kwessies rakende water en elektrisiteit gefokus het, sê die provinsiale damvlakke is rondom 50%.

“Ons weet nie hoeveel reën ons die komende winter gaan kry nie. Spaar asseblief nóú water, sodat ons nie volgende jaar drastiese maatreëls hoef te tref nie,” sê Bredell luidens ’n verklaring.

Luidens die jongste data is die gemiddelde gekombineerde damvlak in die Wes-Kaap tans 50,4%. Dit is laer as verlede week (51,3%) en laer as die vlakke wat verlede jaar vir die ooreenstemmende tydperk aangemeld is (55,8%).

Die damme wat Kaapstad voorsien, is tans gemiddeld 57,9% vol, leër as verlede week se 58,2%, en laer as die 68,4% wat verlede jaar vir dieselfde tydperk aangeteken is.

Die provinsiale regering het onlangs sy geïntegreerde 15 jaar-plan vir waterbestandheid en droogte bekend gestel.

Dié plan het ’n stel scenario’s vir lae en hoë groei ontwikkel, waarin na elke munisipaliteit in die provinsie gekyk is en die watervraag vir hierdie verskillende bevolkings- en ekonomiese groeiprojeksies bereken is.

Volgens die plan sal die grootste deel van die nuwe wateraanvraag van binne die groter Kaapse metro-streek en omliggende Kaapse Wynland- en Weskus N7-korridors kom.

Groeidruk sal na verwagting ook in die Suid-Kaap in en om George en in Plettenbergbaai voorkom.

Volgens Bredell kan die jaarlikse groei in die vraag na “nuwe water” soveel as 4,5% vir Stellenbosch wees, gevolg deur 4% vir Drakenstein en Swartland.

Met gedragsverandering, en indien ondernemings inisiatiewe soos die opvang van reënwater, die hergebruik van water en gryswatergebruik waar toepaslik implementeer, kan die toekomstige wateraanvraag egter daal en tussen 2,3% en 2,7% vir Stellenbosch bly.

“Ons moet beplan en begroot vir hierdie groei in vraag. Maar ons moet ook ’n ingesteldheid van waterbesparing ontwikkel wat ’n permanente deel van ons verhouding met water moet word,” sê Bredell.

Hy sê die huidige hoë vlakke van beurtkrag het ’n direkte impak op waterverspreiding en afvalwaterbestuur.

“Sonder elektrisiteit kan jy nie pompe laat werk nie en al ons watervoorsiening, watersuiwering, waterverspreiding en afvalwaterbestuurstelsels maak staat op elektriese pompe.

“As jy water kan bespaar, help jy ons ook om die druk op hierdie waterstelsels te verlig.”

Bredell sê die provinsiale regering het R89 miljoen van sy gebeurlikheidsfondse na munisipaliteite oorgeplaas vir die verkryging van rugsteunopwekkers vir waterstelsels.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het R6 miljoen ontvang om te verseker dat waterstelsels tydens stroomonderbrekings in werking is, terwyl Drakenstein-munisipaliteit ook R6 miljoen ontvang het.

Damvlakke:

. Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het die afgelope week op 55,4% gebly en was 70,2% ’n jaar gelede.

Die vlakke van damme in die Drakenstein-gebied is:

. Voëlvleidam: 39,2% (39,9%);

. Bergrivierdam: 77,1% (77,3%); en

. Wemmershoekdam: 70,1% (71,2%).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article