Een persoon is dood en talle is beseer toe twee voertuie Maandagoggend (7 Augustus) op die R301 (Wemmershoek Pad) naby die Pearl Valley-gholflandgoed in die Paarl gebots het.
Volgens inligting was dit taamlik mistig toe een van die betrokke voertuie na bewering ’n u-draai in die pad gemaak en die twee voertuie mekaar getref het.
’n Bakkie, een van die betrokke voertuie, het glo werkers vervoer, wat agterop gesit het.
Megan Davids, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, sê EMS-ambulansdienste het die oproep oor die botsing omstreeks 06:47 ontvang.
“Nooddienste is na die toneel en het 10 minute later opgedaag. Op die toneel het ons gevind dat ’n motor en ’n bakkie gebots het. Dit het veelvuldige beserings tot gevolg gehad. Alle beseerdes is later na die Paarl-hospitaal vervoer. Een sterfgeval is op die toneel bevestig en ons wil graag ons innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledene betuig.”
Volgens kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, was ’n Ford Ranger-bakkie en ’n Chevrolet-sportnuts in die botsing betrokke.
“Sewe passasiers in die Ford Ranger is met ernstige beserings gevind en een is op die toneel dood. Die bestuurder van die Chevrolet is vir ligte beserings behandel.”
Getuies beweer die bestuurder van die Ford Ranger het ’n afdraai weens swak sig en digte mis misgery en ’n u-draai voor die Chevrolet gemaak.”
’n Dossier vir strafbare manslag is aangelê en word deur speurders van die Paarl-polisie ondersoek.





