Die polisie in Noorder-Paarl ondersoek klagtes van poging tot diefstal en saakbeskadiging nadat ’n sekuriteitskamerastelsel en sonpanele vroeg Vrydagoggend (8 September) by ’n brug in Langstraat deur misdadigers geteiken is.
Kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval by navraag aan Paarl Post bevestig.
“Die polisie is omstreeks 03:00 na die toneel in Noorder-Paarl ontbied. Die kamera en sonpanele was beskadig nadat dit uit die afgebakende gebied verwyder is. Ons verstaan dat die kamerastelsel deur die Drakenstein-munisipaliteit in oorleg met buurtwagte in Noorder-Paarl opgerig is,” sê Du Plessis.
Volgens Jaco Prins, verbonde aan AfriForum se eenheid vir gemeenskapsveiligheid in die Paarl, is dié kamerastelsel glo al voorheen “gesaboteer”.
“Ons vermoed hierdie was ’n poging om die res van die kamerastelsel, wat nie meer gewerk het nie, verder te saboteer en/of te steel,” sê hy.
Volgens Prins was dit ’n gevorderde kamerstelsel wat nommerplate kon uitken en dat misdadigers al drie keer daarmee gepeuter het.
Die omvang van die skade moet nog bereken word.
Hy sê vorige gevalle van vandalisme in hierdie gebied het al sowat R40 000 beloop.
“Hierdie tipe infrastruktuur word gereeld geteiken. Ongelukkig is Langstraatbrug ’n baie belangrike toegangsroete vir misdadigers om gesteelde goedere, voertuie en dwelms in en uit Noorder-Paarl en die omliggende gebiede te bring.
“Misdaad is ernstig aan die toeneem in die Paarl.”
Die Drakenstein-munisipaliteit het by navraag aan Paarl Post bevestig dat die kamerastelsel nie munisipale eiendom is nie, maar het wel die voorval ten sterkste veroordeel.





