Senior burgers verbonde aan die Paarl-dienssentrum in Paarl-Oos het verlede Donderdag (11 Augustus) Vrouemaand met verskeie sprekers en ’n heerlike middagete gevier.
Teenwoordig by die geleentheid, waar die senior burgers ook toegespreek is, was die DA-woordvoerder oor gesondheid, Wendy Kaizer-Philander. Volgens Kaizer-Philander was dit ’n voorreg vir haar om die geleentheid by te woon omdat sy ’n “kind van die Paarl” is.
“Dit is Vrouemaand en ek is genooi na die dienssentrum toe, maar ek voel nie soos ’n gas vandag nie, want ek was nou al op verskeie geleenthede hier. Ek het selfs familie wat deel is van die dienssentrum.
“Tans dien ek in die Wes-Kaapse provinsiale parlement, maar ek is ’n kind van die Paarl; ek is ’n kind van die Drakenstein. So vir my is dit baie belangrik dat ons wat hoër posisies beklee in ander sfere van regering, nooit vergeet waar ons vandaan kom nie. Dis altyd belangrik vir my om terug te ploeg in ons gemeenskap en om terug te kom na waarvandaan jy kom. My wortels is hier.
“Hier is so baie mense wat ek ken en voor wie ek groot geraak het, en vandag is dit vir my ’n absolute voorreg om as ’n kind van dié dorp, as ’n kind van hierdie omgewing met hulle [die senior burgers] te kan deel.
“Ek het nou vandag vir hulle ’n paar geskenkies saamgebring, maar dit is so netelig. Dit is maar net iets om te wys dat hulle waardevol is. Vir baie van ons bejaardes is hierdie weeklikse uitreik vir hulle die enigste uitkoms – want hulle moet nou nog na kleinkinders omsien. Hulle het reeds hul eie kinders grootgemaak, maar is so vasgevang in omstandighede. Covid het baie van ons bejaardes van ons af weggeneem, en nou kan hulle weer uitsien na hul weeklikse samekomste.”
Marissa Gordon-September, kassier by die Paarl-dienssentrum, sê die tema van die samekoms was “viering van geslagsgelykheid vandag vir ’n volhoubare toekoms van môre”.
Die geleentheid is ook moontlik gemaak deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en Esmé-bloemiste. Gordon-September voeg by: “Dit was vir baie van die lede ’n belewenis, want vir twee jaar kon hulle nie by die klub betrokke gewees het nie. Ons het ook kerse opgesteek ter nagedagtenis van 11 lidmate wat ons van 2020-2022 weens covid verloor het.”
Betrokke by die geleentheid was ook Lizette Baxter, wat ’n maatskaplike werker by AHOS is – ’n skuiling vir mishandelde vroue; raadslid Minnie Petersen (Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit); raadslid Francis Jacobs (Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit); Derrick Hartnick (Radio KC) en sers. Cheslin McKenny van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in Paarl.
- McKenny het die senior burgers ingelig hoe om sekere misdade te rapporteer en wat hulle moet doen wanneer ’n misdaad plaasvind.





