Eers het vyf vroue van Pretoria die land aan die gons gehad in Die Real Housewives van Pretoria en nou is dit die mooie Kaap wat aan die beurt kom met Die Real Housewives van die Wynlande.
Ses vroue gaan hul huise se deure, hul harte en hul lewens vir kykers oopmaak.
Van dié vroue is voormalige skoonheidskoninginne, hedendaagse entrepreneurs met blink idees, fiksheidsmodelle met ’n lus vir die lewe, ’n mediese dokter wat van trauma na estetika beweeg het, ’n sangeres wat die mikrofoon vir die korporatiewe lewe verruil het en ’n vrou wat met die hoof van een van Suid-Afrikaanse se oudste maatskappye getroud is.
Nuuskieriges sal egter tot môre (Vrydag 31 Maart) moet wag voordat die name van dié glansryke vroue aangekondig sal word.
Die Real Housewives
van die Wynlande is in en om Franschhoek, die Paarl, Stellenbosch en Somerset-Wes verfilm en selfs Barrie Kelly van NBC Universal, die Amerikaanse maatskappy aan wie die Housewives-franchise behoort, kan nie uitgepraat raak oor die nuwe reeks nie.
“Die Real Housewives van die Wynlande is een van die mees asemrowende franchises wat ons het. Die ‘stel’ van die Kaapse Wynlande is ongelooflik en ek is gaande oor hoe dit in die openingstitels gebruik word,” sê hy.
“Die natuurskoon en pragtige dorpies is as ’t ware een van die hoofkarakters van die reeks,” sê Pascual Wakefield, die reeksregisseur.
“Die kykers gaan gewis aanklank vind by elke vrou, op die punt van hul stoele sit wanneer dinge ernstig raak en soms emosioneel geroer word. Kykers gaan natuurlik ook baie lag – alles in een episode. Hierdie vroue het dalk nie ’n tekort aan geld nie, maar hulle het siel ook.”
Lindi Lucouw van Red Pepper, die produksiemaatskappy wat vir die reeks verantwoordelik is, sê dit was ’n voorreg om hierdie reeks in een van die mees fotogeniese streke in Suid-Afrika te verfilm.
“Ons ses kleurvolle vroue het sterk opinies en gaan die land behoorlik aan die gons hê. Kykers kan drama, emosie en pittige humor – soms met die tong stewig in die kies – verwag.” . Die Real Housewives van die Wynlande begin Donderdag 20 April om 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144.




