Solidariteit Jeug het ’n plan bekend gemaak om leerlinge met vak-, loopbaan- en beroepskeuses te help.
Dit volg nadat die Covid-19-pandemie en die staat van inperking ’n groot invloed op skole gehad en onder meer meegebring het dat leerlinge sedert Maart 2020 slegs beperkte toegang tot onderrig en leiding gehad het, veral wat besluite oor hul toekoms betref.
“Die pandemie het nie net die akademie ontwrig en leerders onder geweldige druk geplaas nie, maar ook die toegang tot ondersteuning wat leerlinge op skool ten opsigte van vak- en loopbaankeuse ontvang, ontwrig,” sê dr. Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.
“Dié ondersteuning is egter ’n kardinale deel van elke kind se opvoeding en is in baie gevalle die bepaler van daardie leerder se toekoms. Met die aanbreek van die derde vlaag het Solidariteit Jeug besluit om in te spring om leerders met hierdie belangrike besluite by te staan.”
Met die aanbreek van die derde vlaag het Solidariteit Jeug sy skaduwerkprogram vir matrieks na ’n aanlyn platform verskuif. Dit het die afgelope week en ’n half reusesukses behaal. Die reeks Beroepstoer word daagliks om 17:00 op ’n geslote Facebook-groep uitgesaai.
Elke aand word ’n tema behandel waar drie tot vier kenners in daardie beroepe met leerders oor die spesifieke beroep gesels. Leerders en ouers kan vrae vra en meer inligting bekom.
Volgens Solidariteit Jeug sal hy ook sy projek om matrieks in skaduwerkposte te plaas, hervat sodra Covid-19-regulasies verslap word. Hierdie projek behels dat matriekleerders vir ’n dag of twee by werkgewers geplaas word om werklike beroepservaring op te doen.
Die groep sal in Augustus sy projek om gr. 8- en gr. 9-leerders op ’n soortgelyke wyse oor verskillende vakke in te lig, van stapel stuur. Kenners sal elke aand vir weer twee weke lank die onderskeie vakgebiede bespreek en die leerders meer vertel oor watter deure die betrokke vakke vir hulle kan oopmaak, wie in die spesifieke vakke sou belangstel en wat dit behels.
Volgens Van den Heever kan ouers op die uitkyk wees vir opwindende video’s oor vakkeuses wat by verskeie van Pretoria se skole geskiet word, en ook waar om by die regstreekse uitsendings in dié verband in te skakel.
“Solidariteit Jeug besef watter invloed hierdie pandemie op elke ouer en kind het. Daarom maak Solidariteit Jeug dit ons werk en roeping om leerders toe te rus en om gemoedsrus aan hulle oor hul toekoms te bied,” sê Van den Heever.
“Dit sluit alles in – van vakkeuses en persoonlike en leierskapsontwikkeling tot by beroepsvoorligting en loopbaanbepaling. Dan is daar ook instellings soos die Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool wat leerders met hul akademiese werk bystaan.”
Hy moedig ouers aan om nie alleen op hierdie skip te probeer vaar nie. “Ons het die platforms, kenners, materiaal en stelsels beskikbaar om dit vir ouers en leerders baie makliker te maak. Saam kan ons die toekoms van ons kinders deur die drif trek. Dit word van ons verwag om dit te doen.”
Die besluit oor loopbaankeuse is die belangrikste besluit wat leerders op hoërskool moet neem omdat dit ’n invloed op hul loopbaan en toekoms het.
Solidariteit Jeug nooi enige leerder wat twyfel of onseker is oor daardie besluit om Solidariteit Jeug gerus daaromtrent te kontak. Besoek www.solidariteit.co.za vir meer inligting.. Solidarity Youth has announced a plan to help learners with subject, career and career choices.




