Bradley Brown, die finansiële hoof van Drakenstein-munisipaliteit (DM), het só op die bostaande brief gereageer:
Eskom moet nie munisipaliteite blameer vir sy ontwrigtende beurtkrag en buitensporige tariewe nie. Dít is die resultaat van Eskom se eie wanbestuur en Eskom-kaping. Vir die afgelope vyf jaar versoek Eskom vir Nersa om tariewe buitensporig te verhoog.
Ek kan die briefskrywer en die publiek verseker dat die munisipaliteit die belange van al ons gemeenskappe op die hart dra. Ons handhaaf ’n versigtige balans tussen besigheidsbevordering, werkskepping-stimulering, omgee vir behoeftiges, volgehoue basiese dienslewering en fiskale dissipline.
Daar is persepsies, en dan is daar onbetwisbare feite. Persepsies is gegrond op oorvereenvoudigde eensydige vergelykings en op bewerings waaroor in koerante berig word. Dít is presies wat dié skrywer hier doen. Daar is eenvoudig geen manier waarop munisipale tariewe in isolasie met mekaar vergelyk kan word nie. Met ander woorde, wanneer na ’n elektrisiteitstarief gekyk word, moet die basiese heffing of beskikbaarheidsfooi saam met die verbruik vergelyk word. Wanneer verskillende munisipaliteite se tariewe met mekaar vergelyk word, moet die hele mandjie dienste (wat elektrisiteit, water, riool, vullisverwydering en eiendomsbelasting insluit) sowel as verbruik vergelyk word.
’n Onafhanklike ontleding van die 25 Wes-Kaapse munisipaliteite deur die Provinsiale Regering en Provinsiale Tesourie het bevind dat Drakenstein-munisipaliteit se mandjie dienste een van die mees bekostigbare in die provinsie is. In dié verslag, wat versprei is aan verskeie belangegroepe en die media in Drakenstein en verkrygbaar is van die Wes-Kaapse Regering, is bevind dat DM een van die vyf munisipaliteite is wat die laagste tariewe hef.
Om individuele tariewe of tarief-onderafdelings te vergelyk, is om uit die heup te skiet en gee ’n baie skewe prentjie aan lesers.
Om die waarheid te sê, dié briefskrywer pleeg ’n onreg teenoor lesers en die gemeenskap. Waarom nie eerder gevolgtrekkings maak uit ’n onafhanklike, geverifieerde verslag wat deur die Provinsiale Tesourie onderskryf word nie? Is dit omdat dit nie by die briefskrywer se argument en agenda inpas nie?
Om te beweer dat DM munt slaan uit elektrisiteitsverkope is eenvoudig verregaande. Die munisipaliteit maak beslis nie ’n buitensporige wins op elektrisiteitsverkope nie. Nersa maak seker dat buitensporige winste nie gemaak word nie, deur die tariewe te beheer.
DM se benadering is juis om ons tariewe so laag as moontlik te hou. Dit is duidelik uit die feit dat ons in die nuwe boekjaar (2022-’23) elektrisiteitstariewe met 7,47% verhoog het, wat laer is as die meeste ander omliggende munisipaliteite, en dít terwyl ons vir Eskom 8,61% meer vir elektrisiteit moet betaal.
Om die waarheid te sê, is die munisipaliteit se tariefverhogings vir 2022-’23 (eiendomsbelasting – 0%; water en riool – 6,9%; elektrisiteit – 7,47%; en vullisverwydering – 7,5%) laer as die meeste ander munisipaliteite in die Wes-Kaap – veral as dit met die plaaslike- regering-inflasie vergelyk word. Terwyl verbruikersinflasie op 6% staan, is plaaslikeregering-inflasie heelwat hoër, in die koers van 10%. Dit is omdat baie van die dienste wat munisipaliteite verrig groot volumes petrol en diesel verbruik waarvan die pryse steeds die hoogte inskiet. Munisipaliteite betaal nou ook meer vir grootmaat-elektrisiteit en grootmaat-water, en die materiaal en toerusting wat ons benodig om instandhouding te doen en dienste te lewer, is heelwat duurder.
Die leser beweer dat die “Paarl van die hoogste elektrisiteitstariewe vir industrieë in die provinsie het” en nywerhede “voel hulle word oorlas met tariewe en verlaat eerder DM as om hier te bly”. Hierdie stelling is absoluut onwaar. DM se elektrisiteitstariewe vir nywerhede is beduidend laer as dié van Stad Kaapstad en vergelyk baie goed met die gemiddelde wanneer met omliggende munisipaliteite vergelyk word. In der waarheid brei talle van ons groot nywerhede uit en verskuif hul ander afdelings na DM.
DM is ’n aantreklike sake- en beleggingsbestemming. Die munisipaliteit keur ook gereeld bouplanne vir nuwe nywerhede en ontwikkelings goed. Regdeur Drakenstein sien ons hyskrane en konstruksiewerk. Waarom? Ons bied besighede en beleggers politieke stabiliteit en ’n munisipaliteit wat sy finansies kundig bestuur en wat betroubare, voortreflike basiese dienste op ’n volgehoue wyse lewer.
Die munisipaliteit doen verder baie moeite om te verseker dat deernisvoordele net aan huishoudings gegee word wat werklik behoeftig is. ’n Eksterne diensverskaffer verifieer die individuele huishoudings op ons deernis-databank tweejaarliks volgens kriteria vervat in die munisipaliteit se Deernisbeleid. In Mei 2021 is 4 648 huishoudings van ons deernissubsidie-lys verwyder omdat hulle nie meer in aanmerking kom nie, en in Februarie 2022 is nog 1 031 huishoudings om dieselfde rede verwyder.




