Vandag se generasies moet lig loop vir die moderne tegnologie waardeur hulle vasgevang is.

In die wêreld waarin ons leef, is dit belangrik om selfbeheersing en selfdissipline toe te pas. Ons almal het ons probleme en frustrasies en het moeilike omstandighede ervaar. Dit is maar net hoe die lewe is.

Ons lewe is vandag gemaklik omdat dinge baie vinnig gebeur. Tegnologie is oral. Dit is amper onmoontlik om jou lewe sonder tegnologie voor te stel. Jou brein ondergaan verandering, denkvermoë en vermoë om te fokus word negatief beïnvloed, en ons word die vermoë gegee om deur tyd te reis. Dit kan ’n groot invloed op ons samelewing en kultuur hê. Mense is besig om geestelik agteruit te gaan; emosioneel en liggaamlik ook. Ons is nie masjiene nie, al probeer die tegnologie ons daarin verander.

Dink aan jou foon, die televisie, rekenaars – daar is soveel meer as net die luukshede waarsonder ons kan leef. Waar is die dae toe ons grootouers ’n perd moes aanskaf om by hul bestemming te kom, of hulle moes loop? Die dae waar jy buite op die vuur moes water kook vir koffie? Die outydse wekker en die gekap van hout wat jou wakker gemaak het? As jy met iemand in ’n ander land wou praat, moes jy ’n brief stuur. Die wagtyd tussen indiening en reaksie was ’n probleem. In vandag se era bestaan niks meer daarvan.

Ons leef in ’n tydperk van inligting. Hoe meer ons aan tegnologie heg, hoe minder vind ons mekaar. Moderne tegnologie het baie doeltreffend beheer oor ons lewens geneem. Maar dit is slegs ’n weerspieëling van die vaardigheid van die ego om dieselfde te doen.

Ons taal is besig om te verdwyn. Die manier hoe mense op sosiale netwerke skryf – hul spelling, woordkeuse en taalgebruik – is besig om agteruit te gaan. Ons wil alles so gemaklik as moontlik hê om so min as moontlik moeite te doen. Ons kinders leef vandag heeltemal anders as vorige geslagte. Die grootste verskil is dat hulle meer toegang tot tegnologie het. Hoe meer blootstelling aan tegnologie, hoe groter die potensiële blootstelling aan ontoepaslike inhoud soos pornografie.

Dit kan lei tot gesondheidsprobleme; die kanse is groot dat selfs volwassenes verslaaf kan raak aan tegnologie. Ons as mens steur ons nie aan die Here nie en Hy is die een na wie ons moet gaan vir ’n oplossing. Hy eis dat ons ons beste aan Hom moet gee en ’n verhouding van gehalte met Hom moet opbou. Sy beloftes geld slegs vir dié wat Hom ken en getrou aan Hom is.

Dit is hoe dit gaan in ons wêreld, huise, verhoudings en lewe. Die gehalte-element het êrens verlore geraak. Ons elkeen het net een lewe om te leef. Dit is tyd om ernstig tot stilstand te kom ná hierdie gejaag na wind en self te kies of ons dit met “kwaliteit of kwantiteit” wil doen. Ons as ouers het ’n groot taak op ons skouers om ons kinders te help om hierdie tegnologieverslawing te oorkom. Leer jou kind om te alle tye respek vir ander te hê. ’n Goeie verhouding met jou kind is noodsaaklik sodat julle vrymoedig oor uitdagings kan gesels. Maak seker wat jou kind op die selfoon kyk. Werk in ’n beperkte tyd wanneer jy jou kind ’n selfoon gaan gee; wanneer hy of sy selfstandig genoeg is om te weet wat reg en verkeerd is. Alles wat nou verander het, het ons kinders beïnvloed op maniere wat ons ons nie kan voorstel nie. Sodra jy iets sien wat iemand anders plaas, wonder jy van nature hoekom jy nie so gelukkig kan wees nie, veral as jy op daardie oomblik voel dat jou lewe nie is soos wat jy dit graag wou hê nie. Dink aan hoe gereeld ons telefonies met mekaar praat, of persoonlike gesels, in vergelyking met hoe gereeld ons per SMS of e-pos kommunikeer. Ons is nou vasgeplak in ons tegnologie en soek 24/7 na inligting op die web.

Ons moet nie moed opgee nie, maak nie saak wat in ons lewens aangaan nie. Ons moet net standvastig bly en volhard. Die lewe werk dikwels nie so vinnig soos tegnologie nie. Die lewe gebeur teen sy eie pas op sy eie wyse. Tegnologie haal die verrassing uit ons lewe en verruil dit vir gerief. Skakel jou foon in die aande af, maak ’n vuur en bring tyd saam met familie en vriende deur. Wees ook self waaksaam – tegnologie is ’n hulpmiddel en nie die oplossing vir alle menslike probleme nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article