Die wandelende Twisty is gewoonlik eerder luilekker tuis.



Die ou liedjie lui: “Pollie ons gaan Paarl toe . . .” en dit is presies wat ’n huiskat wat op ’n plaas naby Wellington woon, keer op keer doen.

Die ding is so – Twisty het reeds ses keer van sy huis af weggeloop en by presies dieselfde voordeur van inwoners van Noorder-Paarl beland. Hierdie is wildvreemde mense vir die kat en sy mens-gesin, en die huis is ook glad nie in ’n gebied waar die gesin al vantevore gewoon het nie.

Die ratse, stappende kat se mens-ma, Lizelle du Toit, vertel sy is dié week weer eens vroegoggend wakker gebel, net om te hoor Twisty het weer die pad gevat en dieselfde mense gaan “wakker klop”.

“Ons het met ons aankoms destyds in die Paarl wel eers in Noorder-Paarl gewoon, maar baie ver van die adres waarheen Twisty dros. Ons het later middedorp toe getrek en woon nou reeds twee jaar lank op ’n plaas op die Malmesburypad naby Wellington,” sê Lizelle.

Maar sedert die Du Toits, insluitend Twisty, op die plaas woon, het die kat al ses keer die meer as 16 km van die plaas af tot op die voorstoep van die inwoners naby Optenhorststraat in die Paarl geloop.

Daar het die inwoners eers geskrik toe hulle een oggend wakker word met die geluid van ’n kat wat luidkeels by hul voordeur raas. Intussen, toe Lizelle agterkom Twisty is weg, het sy op alle moontlike sosialemediaplatforms hulp gevra dat mense vir hul geliefde kat op die uitkyk moet wees.

Michelle Rossouw, aan wie se deur Twisty “geklop” het, het ’n inskrywing hiervan gesien en Lizelle gekontak.

Die verligte Du Toits het Twisty inderhaas gaan haal. Hulle het eers gedink dat hierdie maar net ’n enkele gebeurtenis sou wees, maar helaas was dit nie – Twisty stap keer op keer die baie lang afstand na Michelle se voorstoep.

“Ons kan dit glad nie verstaan nie,” se Lizelle. “Daar is absoluut geen verbintenis tussen ons en die Rossouws asook die omgewing waar hul huis is nie.”

Lizelle sê die gesin het die agtjarige Twisty baie jare gelede al aangeneem en hy is destyds reeds “reggemaak”. Verder is hy ’n tipiese lui huiskat wat homself koning maak in die huis en die meeste van die tyd luilekker rondlê. “Een ding wat wel van Twisty se rondloop-eskapades gekom het, is dat ons nou goeie nuwe vriende gevind het in die inwoners waarheen Twisty so graag wegloop.”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article